Kom Flikker & Flash in die strate van Stellenbosch

By die eerste Toyota US Woordfees Kunstenaarsweek (6 – 11 April) kry 70 topkunstenaars uit ’n verskeidenheid dissiplines die geleentheid om hul vaardighede, idees en konsepte te verfyn onder leiding van agt vooraanstaande fasiliteerders: die teatermakers Andrew Buckland, Gcina Mhlophe, Mmatumisang Motsisi, Sylvaine Strike en Jefferson Tshabalala, die danser-choreograwe Gregory Maqoma en Alfred Hinkel, en die digter en verhoogkunstenaar Jolyn Phillips.

Gedurende die slypskoolprogram sal die gekeurde kunstenaars deelneem aan ’n reeks van werkswinkels waarin hulle projekkonsepte in samewerking met die ander deelnemers en dissiplines sal ontwikkel. Hierdie nuwe konsepte sal aan die einde van die Kunstenaarsweek as kort vertonings in onkonvensionele ruimtes in die Stellenbosch-middedorp aangebied word.

Met dié Flikker & Flash-opwipvertonings wil die Woordfees ruimtes wat tans leegstaan, met lig en kuns vul en nuwe lewe blaas in ’n dorp wat swaar deur die pandemie en die gepaardgaande verlies aan koopkrag en toerisme getref is.

Die Toyota US Woordfees Flikker & Flash word moontlik gemaak deur die ondersteuning van Toyota, die Universiteit Stellenbosch, NATi,  kykNET en plaaslike vennote – Stellenbosch Wine Routes en Visit Stellenbosch, wat goedgunstiglik akkommodasie teen afslagpryse aan die besoekende kunstenaars verskaf.

Leon Theron, Senior vise-president van verkope en bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors, is opgewonde oor dié projek: “Ons besef dat die kunste, soos baie ander sektore, geweldig as gevolg van die COVID-19-inperkings gely het. Die aanbieders sowel as al die belanghebbendes wat by die jaarlikse produksie van die Toyota US Woordfees betrokke is, stoei ook met die uitdagings wat die pandemie meegebring het. Ons is daarom opreg dankbaar dat hierdie kuns-en-kultuur-ekstravaganza ’n platform bied vir plaaslike kunstenaars om hul kunswerke ten toon te stel. Aangesien kuns ’n welkome ontsnapping bied en dit ook die werklikheid van ons sosiale lewe weerspieël, hoop ons dat Woordfeesgehore met ’n nuwe gevoel van optimisme sal wegstap.”

Dr. Leslie van Rooi, Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie aan die Universiteit Stellenbosch, sê: “Die US is verheug dat ons by kan dra om hierdie inisiatief te laat realiseer. Ons verstaan dit as deel van ons sosiale impak om kunstenaars in hierdie tyd spesifiek te ondersteun om nuut en verder te dink oor die realiteit van Covid-19 en daarna. Só bevestig die US ook sy vertroue in die werksaamhede van die Toyota US Woordfees en hou die universiteit aan om te belê in die toekomsmoontlikhede van die fees. Dit sal ook gewoon lekker wees om die uitvoerende kunste te kan beleef en vier saam met die groter dorpsgemeenskap van Stellenbosch.”  

Vir Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi (Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief), is die element van gemeenskap ook van kardinale belang: “NATi is veskriklik bevoorreg en trots daarop om by hierdie innoverende idee van die Toyota US Woordfees betrokke te wees.  Dit is presies wat ons gemeenskap nou nodig het: gemeenskap. Die wonderlike vooruitsig van die kunstenaarsweek is ook die kruisbestuiwing wat gaan plaasvind tussen verskillende groeperinge in die kunstenaarslandskap. As daar een goeie ding uit Covid gekom het, is dit die feit dat hierdie arbitrêre kleur- en taalgrense wat ons in aparte silo’s laat optree het,  skielik nie meer bestaan nie. Daar is nou net een kunstenaarsgemeenskap en ons praat die taal van die kunste. Ons praat die taal van die teater en musiek en die geskrewe woord en dans en visuele kuns. Digitale en virtuele teater het ons verlam (en ’n paar broodnodige lesse geleer) maar vernuwende projekte soos die Kunstenaarsweek hervestig ons fokus weer op die heel belangrikste element in die ekosisteem: die kunstenaar en sy gemeensaamheid met sy medekunstenaars. 2021 is ongelukkig nog nie ’n jaar vir die terugkeer na die teater met grootse produksies en massiewe begrotings nie.  Ons dink nou kreatief aan maniere om onsself uit te daag om te skep en te dink en met hernieude energie terug te keer na die teater.  Want die mense gaan ons nodig hê.”

Leo Smit, Senior bestuurder – bemarking: kykNET-kanale en -inhoud, wys op die interafhanklikheid tussen TV en film en die uitvoerende kunste: “Hierdie projek dra by tot die koestering en beskerming van die wyer vermaaklikheids-ekosisteem waarvan teaters en kunstefeeste ’n uiters belangrike en groot deel vorm. Dit is nou meer as ooit belangrik om hande te vat met ons feesvennote en nuwe inisiatiewe te ondersteun.”

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees, beklemtoon die rol van kunstenaars as denkleiers in troebel tye: “Die plaaslike uitvoerende kunste is in ’n krisis soos nog nooit te vore nie. Covid, swak leierskap en ’n gebrek aan artistieke visie op nasionale vlak laat die uitvoerende kunste by ’n dooiepunt. Om te oorleef moet ons nou anders dink, en wie beter om die “anders dink” te lei as juis kunstenaars. Ons hoop enersyds dat kunstenaars die week bevestiging van hulle kunstenaarskap en die waarde daarvan sal ervaar, maar ook dat die Stellenbosse gemeenskap opnuut sal besef dat die kunste en kultuur ons dorp ’n interessanter en beter plek maak om in te bly.”  

Die optreeruimtes en ’n program sal teen 6 April op al die Woordfees se digitale platforms bekend gemaak word. Hou ons op sosiale media dop en teken onderaan ons tuisblad in op die Woordfeesnuusbrief om op datum te bly met die jongste feesnuus.

Vennote en produkborge