Die talentvolle afro-soul-jazzmusikant Mandisi Dyantyis is vanjaar op die Woordfeesverhoog te sien en bring gees, vibes en begeesterde klanke na die Bos. Hy is ’n bekroonde trompetspeler en sanger, en bekoor die jazzwêreld met sy diep emosionele klanke en lirieke. In 2018 het hy met Somandla gedebuteer, en sy Sama-wenneralbum, Cwaka, is al meer as 4 miljoen keer gestroom. Hy is een van die land se voorste jazzmusikante en was by twee geleenthede die enigste van sy landgenote wat by die legendariese Amerikaanse jazzmusikant Herbie Hancock se International Jazz Day Global-konsert opgetree het.