Met: Danny Ross, Germandt Geldenhuys, Elzabé Zietsman, Alicia Van Emmenes, Zethu Mphahlele, Lebogang Mphahlele
Lionel is ‘n professionele ry-wagter – hy sit sodat jy nie hoef nie: Binnelandse Sake, die lisensiekantoor, noem dit en hy is daar. Dis ’n lewe, al voel dit nie altyd so nie. Toe ’n vreemdeling hom aanstel om by sy sterwende ma se siekbed te wag, neem Lionel die werk huiwerig aan. Alleen in haar eksentrieke huis vol herinneringe begin hy ontrafel wie hierdie vrou regtig was. ’n Musikant. ’n Avonturier. Iemand wat werklik geleef het. Terwyl haar laaste ure wegtik, word Lionel gedwing om ’n vraag in die oë te kyk wat hy lank vermy het: Waarvoor wag hy nou eintlik?
Vervaardiger: Christian Grobbelaar, Ryan Johnson
Produksiehuis: Sea Dog Creative Co.
Regisseur: Christian Grobbelaar
Draaiboekskrywer: Christian Grobbelaar
Redigeerder: Gideon Breytenbach
Kinematograaf: Jason Haji-Joannou
Klankbaan: Emma van Heyningen, Wesley West
Die kykNET Silwerskermfees is ’n gesogte en volwaardige Suid-Afrikaanse en Afrikaanse filmfees wat al meer as ’n dekade lank die plaaslike filmbedryf ondersteun, bemagtig en ontwikkel. Terwyl ’n aantal vollengte speelfims van gesoute filmmakers hul wêrelddebuut of Suid-Afrikaanse buiging by dié prestige-geleentheid maak, is die fees ook ’n toonvenster vir ontluikende talent: ’n Rits kortflieks wat met die nodige mentorskap onder die feesvaandel vervaardig word, laat jaarliks die kollig op hulle handewerk val. Die filmfees wys met dank 6 kortfilms van opkomende filmmakers, 4 kortfilms van gevestigde filmmakers en 5 kortdokumentêre uit die 2026 kykNET Silwerskermfeesprogram. Vollediger inligting oor die kortfilms is beskikbaar by www.woordfees.co.za. Hierdie kortfilms is onder mentorskap van kykNET en M-Net vervaardig en het by die 2026 kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai gepremière.