Met: Ruan Wessels, Heléne Lombard, Megan Vorster
Freek is ’n sosiaal ongemaklike jong man wat hom van die wêreld afgesluit het. Hy skuil agter sinisme en ’n stil woede, wat hy van sy emosioneel onstabiele pa geërf het. Ná ’n groot uitval met sy beste vriendin beland hy in ’n warm, verwelkomende haarsalon – ver buite sy gemaksone – waar Fernanda, ’n lewenslustige haarkapper met haar eie letsels, iets in hom herken en hom uit sy harde dop lok. Sy begin hom uitdaag om anders na homself en die mense rondom hom te kyk. Wanneer hy dan tog weer van alles en almal wil wegdraai, besef hy dat hy besig is om in die man wat hy nooit wou word nie te verander. Gaan Freek Fernanda se hand vat en die angswekkende sprong uit isolasie waag?
Vervaardiger: Morné du Toit
Produksiehuis: Helder Films
Regisseur: Hennie van Deventer
Draaiboekskrywer: Hennie van Deventer
Redigeerders: Jurg Slabbert, Ruan van Rooyen
Kinematograaf: Amelia Henning
Klankbaan: Augusta Zietsman
Die kykNET Silwerskermfees is ’n gesogte en volwaardige Suid-Afrikaanse en Afrikaanse filmfees wat al meer as ’n dekade lank die plaaslike filmbedryf ondersteun, bemagtig en ontwikkel. Terwyl ’n aantal vollengte speelfims van gesoute filmmakers hul wêrelddebuut of Suid-Afrikaanse buiging by dié prestige-geleentheid maak, is die fees ook ’n toonvenster vir ontluikende talent: ’n Rits kortflieks wat met die nodige mentorskap onder die feesvaandel vervaardig word, laat jaarliks die kollig op hulle handewerk val. Die filmfees wys met dank 6 kortfilms van opkomende filmmakers, 4 kortfilms van gevestigde filmmakers en 5 kortdokumentêre uit die 2026 kykNET Silwerskermfeesprogram. Vollediger inligting oor die kortfilms is beskikbaar by www.woordfees.co.za. Hierdie kortfilms is onder mentorskap van kykNET en M-Net vervaardig en het by die 2026 kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai gepremière.