Met: Sonia Roman, Kevin Maxwell, Victor ‘Boy’ Josephus, Nellie Nomdo, Jenny Wilson
Sonia Roman (77) berei haar voor om na ’n nuwe huis in Protea Village te trek, wat vir haar veel meer as net ’n behuisingskema is. Protea Village verteenwoordig geregtigheid vir die diep seer wat sy sedert haar kinderdae saamdra, toe haar familie saam met ’n hele bruin gemeenskap deur die apartheid-regering verskuif is uit hul welige paradys langs Kirstenbosch Botaniese Tuine na Heideveld, ’n dorre township op die Kaapse Vlakte. Sestig jaar en verskeie hofsake later het eisers soos Sonia, Boy en Nellie hul grond teruggekry. Saam met hul nageslag verhuis hulle nou na een van die mees welgestelde voorstede in Kaapstad, Bishopscourt. Dit beteken egter Sonia en die ander moet die kompleksiteit van ’n enkele grondeis wat tussen verskeie familielede gedeel word, navigeer. Die hoë eiendomsbelasting in Bishopscourt is ’n ander uitdaging. Sal hulle kan bekostig om hulle laaste jare daar deur te bring?
Vervaardiger: Mia Cilliers
Produksiehuis: Reel Epics
Regisseur: Mia Cilliers
Redigeerder: Roxanne Dalton
Kinematograaf: Gray Kotzé
Klankbaan: Edward George King
Die kykNET Silwerskermfees is ’n gesogte en volwaardige Suid-Afrikaanse en Afrikaanse filmfees wat al meer as ’n dekade lank die plaaslike filmbedryf ondersteun, bemagtig en ontwikkel. Terwyl ’n aantal vollengte speelfims van gesoute filmmakers hul wêrelddebuut of Suid-Afrikaanse buiging by dié prestige-geleentheid maak, is die fees ook ’n toonvenster vir ontluikende talent: ’n Rits kortflieks wat met die nodige mentorskap onder die feesvaandel vervaardig word, laat jaarliks die kollig op hulle handewerk val. Die filmfees wys met dank 6 kortfilms van opkomende filmmakers, 4 kortfilms van gevestigde filmmakers en 5 kortdokumentêre uit die 2026 kykNET Silwerskermfeesprogram. Vollediger inligting oor die kortfilms is beskikbaar by www.woordfees.co.za. Hierdie kortfilms is onder mentorskap van kykNET en M-Net vervaardig en het by die 2026 kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai gepremière.