Silwerskermfees-kortfilms: Rooi van aard

Filmfees
Multilingual
10-12 PGLP
30 Minute
6 Oktober
16:00
7 Oktober
16:00
Gratis

Met: Niël Coetzee, Anel Alexander, Anthea Pokroy, G.P. van Rheede van Oudtshoorn, Heidi Coetzee, Maude Sandham, Soné Roos, Tielman Roos

Niël se rooi hare is sedert sy kinderdae vir hom ’n bron van verleentheid. Hy laat daarom die stil, bekende wêreld van L’Agulhas agter en pak ’n reis na Gauteng aan op soek na ander wortelkoppe. Só kruis sy pad met, onder andere, Anel Alexander (7de Laan, Semi-soet), Anthea Pokroy (van die I Collect Gingers-fotoprojek), entrepreneurs en ’n hele gesin rooikoppe. Tussen lag en ongemak meld pynlike herinneringe aan: van kerkkamp-boelies en ’n “fotodag-sameswering” tot al die klein goedjies wat hom nog altyd pla. Sal Niël se soektog hom help om uit sy isolasie te ontsnap en die mooi in rooi te ontdek?

Vervaardiger: Hancu Louw
Regisseur: Niël Coetzee
Skrywer: Niël Coetzee
Redigeerder: Anlerie Cilliers
Kinematograaf: Xolani Innocent Nhlapo

Die kykNET Silwerskermfees is ’n gesogte en volwaardige Suid-Afrikaanse en Afrikaanse filmfees wat al meer as ’n dekade lank die plaaslike filmbedryf ondersteun, bemagtig en ontwikkel. Terwyl ’n aantal vollengte speelfims van gesoute filmmakers hul wêrelddebuut of Suid-Afrikaanse buiging by dié prestige-geleentheid maak, is die fees ook ’n toonvenster vir ontluikende talent: ’n Rits kortflieks wat met die nodige mentorskap onder die feesvaandel vervaardig word, laat jaarliks die kollig op hulle handewerk val. Die filmfees wys met dank 6 kortfilms van opkomende filmmakers, 4 kortfilms van gevestigde filmmakers en 5 kortdokumentêre uit die 2026 kykNET Silwerskermfeesprogram. Vollediger inligting oor die kortfilms is beskikbaar by www.woordfees.co.za. Hierdie kortfilms is onder mentorskap van kykNET en M-Net vervaardig en het by die 2026 kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai gepremière.