Die internasionaal bekroonde The Moon Looks Delicious From Here is ’n teatrale kragtoer vol drama en patos wat temas van identiteit, erfenis en seksualiteit deur die oë van ’n eerstegeslag-Suid-Afrikaner ondersoek. Die dramaturg Aldo Brincat is daardie eerstegeslag-Suid-Afrikaner met Mauritiaanse, Egiptiese en Maltese wortels. Hy word in die middel van die 1960’s in Suid-Afrika gebore en beleef saam met sy familie die knellende greep en uiteindelike ineenstorting van apartheid.