Almal is moeg, siek en sat, lê met ’n eina-pyna hart, effens mal, huilerig, gee moed op… en voel genoeg is genoeg. Daarom het ons besluit om saam ’n veldhospitaal te bou waar ons as sukkelende kreatiewe lywe net ’n drup of ’n drukkie of íéts kan kry. ’n Plek waar ons waarhede kan leef en stories saam kan weef. Dít is die medisyne! Die Veldhospitaal is ’n ervaring, ’n avontuur na die binnewêreld. Dit is ’n lewende kunswerk wat ontstaan uit individuele kunstenaars wat elkeen organe, liggaamsdele en abstraksies van menswees verteenwoordig.
Die Veldhospitaal se besoekure is van 10:00 tot 22:00 van 14 tot 19 Oktober; een feeskaartjie dek alles. Skandeer die QR-kode om na ons webwerf te gaan waar ’n regstreekse skedule beskikbaar is. Ons is nie gepla met perfeksie nie, want dit is juis deur die krake waar die lig inskyn. Ons wil mekaar net so ’n bietjie vashou, ’n skouer en ’n oor wees, aan trooskos weglê, alles uit die hart probeer doen, volkome ervaar, en aanvaar en gesond word, help waar ons kan, ’n inspirasie-inspuiting gee, ’n blaaskans vir die siel wees, ’n uitroep aan die heelal maak, of ’n saak van gebed begin. As jy nie heeltemal verstaan wat hier geskryf is nie, chillax, volg net jou instink en kom! Kom boek jouself in by die Veldhospitaal. Bring blomme en ’n beterskapkaartjie saam as jy wil. Hoe ook al, ’n kopdraai-bohaai sal dit bly.
Vind die teaterskedule vir Die veldhospitaal hier en inligting oor die uitstalsale hier.