EASYEQUITIES SKRYWERSFEES

Bitterkomix: Vryheidsvegters met die pen

Produksie: Bitterkomix: Sketchbooks and Journals
Deur: Diane de Beer

Al het die wêreld skynbaar sy rug op satire gedraai, vier Anton Kannemeyer en Conrad Botes van Bitterkomix hulle vennootskap van 35 jaar met ’n nuwe boek waarin ongeveer 1 000 van hulle tekeninge opgeneem is, skryf Diane de Beer.

Daar is geen beter rekord van ’n kunstenaar se ontwikkeling as sy eie sketsboeke nie. Dít beaam Conrad Botes en Anton Kannemeyer van Bitterkomix wat al sedert 1989 ’n groot gros volgelinge vermaak met hulle skerp satiriese blik op ons skewe wêreld.

Die twee kunstenaars het met die digter Danie Marais gesels oor hulle nuutste publikasie, Bitterkomix Sketchbooks and Journals, waarin ongeveer 1 000 van hulle tekeninge opgeneem is en waarmee hulle hulle vennootskap wou vier.

Dit was ’n groot storie om te besluit oor die inhoud en hoe om dit saam te stel, maar hulle is ’n gedugte span. ’n Mens kom gou agter die beplanning was waarskynlik net so snaaks soos hulle sketse – dis duidelik hier is soms ’n armdruk of iets dergliks ingespan om die eindproduk te bedredder.

Bitterkomix se vroeëre werk is in hulle studentejare in die destydse linksgesinde literêre tydskrif Stet gepubliseer. Hoewel dit goed ontvang is en hulle stilletjies opgewonde geraak het, het daar niks van gekom nie.

Oudergewoonte was dit eers nadat hulle in 1999 uitgenooi is na Frankryk en hulle eerste internasionale blootstelling gekry het, dat mense ook plaaslik begin gons het. Maar ook dít was nie noemenswaardig of langdurig nie.

Konserwatiewes wou ons nog altyd ‘cancel’ maar kon dit nooit regkry nie. Die ‘left’ het dit oornag reggekry, verduidelik hulle.

Op 7 Januarie 2015 word joernaliste van die satiriese weekblad Charlie Hebdo aangeval (11 is dood en 10 beseer) deur twee broers wat wraak wou neem omdat die tydskrif spotprente van die profeet Mohammed gepubliseer het. Hoewel die wêreld die aanvalle afgekeur het, het dit aanvanklik ’n groot invloed op die werk van die twee plaaslike spotters gehad. En toe, net so skielik, draai die wêreld en besluit miskien is satire nié aanvaarbaar nie.

The New York Times, een van die wêreld se invloedrykste koerante, het ontslae geraak van hulle eie satiriese spotprente. Hoewel al hierdie gebeure ’n invloed op die Bitterkomix-span gehad het, het hulle nie ophou teken nie. As hulle iewers saamgereis het, het hulle saamgeteken. Hulle praat van die sketse as “doubles” – dié waaraan hulle saamgewerk het. En die vennootskap hou al vir 35 jaar!

Dis nie altyd maklik nie, gee hulle toe, maar omdat hulle van die begin af dinge saamgedoen het, het hulle ’n sekere werksetiek ontwikkel. “Kompetisie was beslis stimulerend,” beaam die twee, en hoewel hulle as studente soms mekaar aangevat het met hulle sketse, het die spanwerk oor die jare albei se werk gebaat.

Anton vertel byvoorbeeld hoe hy deur die nag geteken het, miskien om ’n voorsprong te kry, en hoe Conrad dan verwoed sou inspring “to up the ante”!

Hulle het ook deur hulle studentejare begin wonder wanneer hulle werk sou begin profesioneel lyk. “Ek het besef dis ’n besluit wat jy self oor jou werk moet neem,” verduidelik Anton.

Om die impetus aan te wakker het hulle ook ander studente betrek, maar daar was ’n streng keuringsproses. “As daar wel so ’n bietjie van ’n beweging geskep word, wil mense deel daarvan word,” voeg Anton by. “Dit gee energie aan die proses en spoor almal aan om beter te teken.” Maar hulle het nie enige hulp sommer net aanvaar nie. “Ons het eers gekyk of dit by ons werk pas,” sê Conrad.

Hulle voel albei wat hulle destyds op universiteit vermag het, vandag taboe sal wees. Hulle dosente het baie gehelp. “Dit help nie as mense net sê iets is ‘nice’ nie. Hulle het ons laat verstaan dat as ons werk soos Goya of Renoir gelyk het, sou hulle nie vir ons kon help nie!” sê Anton.

Anton glo die ‘cancel’-kultuur van die skooljare seëvier nou selfs deur universiteit en hy weet nie of dit gaan verander nie. Dis asof mense nie meer verskillende opinies verdra nie, meen Conrad.

Hulle het deur die jare besef hulle werk is uniek. Selfs deur die swaar tye toe hulle werk skielik as rassisties gebrandmerk is in die sterk swaai teen satire, het hulle eenvoudig aanhou teken en skaaf aan hulle tegnieke en vaardighede en saam met die tye beweeg.

“Konserwatiewes wou ons nog altyd ‘cancel’ maar kon dit nooit regkry nie. Die ‘left’ het dit oornag reggekry,” verduidelik hulle.

Anton glo die “cancel”-kultuur van die skooljare seëvier nou selfs deur universiteit en hy weet nie of dit gaan verander nie. Dis asof mense nie meer verskillende opinies verdra nie, meen Conrad.

Eintlik is dit die doel van kunstenaars om vrae te vra, maar nou word hulle beskuldig van die een of ander agenda.

Maar as ’n mens die veggees van hierdie twee vryheidsvegters in ag neem, is dit duidelik hulle gaan aanhou die draak steek en met wyshede wikkel, soos hulle met hulle nuwe boek bewys.

Hoe dan anders? Hulle aanhangers verwag niks anders van hulle nie.

*

Bitterkomix: Sketchbooks and Journals
17 OKT 16:00 
EasyEquities Skrywerskamer

Facebook
Twitter
LinkedIn