VISUAL ARTS

Jou kuns is nie noodwendig my kuns nie

Produksies: ‘KUNS’ en The art of collecting: Why you should collect art, wine and jewellery
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Gys Loubser en verskaf 

Strauss & Co het die afgelope paar jaar ’n waardevolle impak op die Woordfees gehad. Nie net het hulle hulle kundigheid na die fees toe gebring nie, maar daar is ook kuns te sien wat jou asem wegslaan. En dan is daar ‘KUNS’, die toneelstuk oor drie vriende wat stry kry oor een kunswerk. Wanneer is kuns dus werklik kuns, en waarin moet jy belê?

In Serge se woonstel.
’n Wit skildery met fyn wit strepe wat skuins afloop, is op die vloer staangemaak.
Serge kyk met onverbloemde vreugde na sy skildery. Marc kyk na die skildery.
Serge kyk na Marc wat kyk na die skildery.
Daar volg ’n lang stilte waarin albei se gevoelens woordeloos uitgedruk word.
 

MARC: Duur?
SERGE: Tweehonderdduisend.
MARC: Tweehonderdduisend…
SERGE: Handtington sal dit terugkoop vir tweehonderd en twintig.
MARC: Wie is dit?
SERGE: Handtington?!
MARC: Ken hom nie.
SERGE: Handtington! Die Handtington-kunsgalery!
MARC: Die Handtington-kunsgalery sal dit terugkoop vir tweehonderd en twintig…
SERGE: Nee, nie die galery nie. Hy. Handtington self. Vir homself.
MARC: En hoekom het Handtington dit dan nie uit die staanspoor gekoop nie?
SERGE: Want dis in hierdie mense se belang om aan individue te verkoop. Die mark moet aanhou beweeg.
MARC: Ja-aaa…
SERGE: Nou toe?
MARC: …
SERGE: Jy staan nie op die regte plek nie. Kom kyk van hier af. Sien jy die strepe?
MARC: Wat is die naam van die…
SERGE: Skilder. Antrios.
MARC: Bekend?
SERGE: Uiters. Uiters!
Stilte.
MARC: Serge, jy het nie regtig tweehonderdduisend frank vir hierdie skildery betaal nie?
SERGE: Maar dis die prys, ou kêrel. Dis ’n Antrios
MARC: Jy het nie regtig tweehonderdduisend frank vir hierdie skildery betaal nie!
SERGE: Ek het geweet jy sal nie verstaan nie.
MARC: Het jy regtig tweehonderdduisend frank vir hierdie stuk stront betaal?!

Met my eie kunsversameling wil ek die storie van Suid-Afrikaanse kuns vertel. As dit nie ’n reaksie ontlok nie, koop ek dit nie. Jy moet ’n verhouding vorm met iets. Dit moet jou lewe verryk en jou hart en siel raak.

In een van die eerste tonele van ‘KUNS’ verskil twee vriende oor ’n kunswerk wat die een ten duurste gekoop het nie. Later word nog ’n vriend by die argument betrek en die groot vraag gevra: Is dit dan nou kuns en is dit regtig die prys werd? Met Wessel Pretorius (Marc), Ludwig Binge (Serge) en Wilhelm van der Walt (Yvan) en met ’n Afrikaanse vertaling deur Naòmi Morgan van Yasmina Reza se stuk wat oorspronklik in Frans geskryf is, het dit voor volgepakte gehore by die fees gespeel.

Op Dinsdag 14 Oktober was daar as deel van Strauss & Co se program ’n fassinerende gesprek juis hieroor – wat is die kuns van belegging, en belangriker, waarin moet jy belê?

Op die paneel was Frank Kilbourn, uitvoerende voorsitter van Strauss & Co; Carel Nolte, hoof van sakebemagtiging by EasyEquities; en dr. Alastair Meredith, hoof van Strauss & Co se kunsdepartement. Die gesprek is deur Sean O’Toole gelei.

Frank het vertel sy versamelingsdrang het met horlosies begin. Later het meubels en karre bygekom, ook kuns en broodbome, en op die koop toe teelvee.

“Ek wil goed wees in soveel as moontlik dinge,” het Frank, wat grade in drie rigtings het (regte, besigheid en filosofie). “Met my eie kunsversameling wil ek die storie van Suid-Afrikaanse kuns vertel. As dit nie ’n reaksie ontlok nie, koop ek dit nie. Jy moet ’n verhouding vorm met iets. Dit moet jou lewe verryk en jou hart en siel raak. Die kuns moet iets wees waarmee ek kan saamlewe. As ek dit kan bekostig, koop ek dit. As ek dit nie kan bekostig nie, betaal ek dit af.”

Om kuns te versamel is nie net vir ’n uitgesoekte handjievol mense nie, het al drie paneellede benadruk. “Strauss & Co maak dit interessant én moontlik,” het Carel gesê. As ywerige kunsliefhebber en amper-amper versamelaar, kan ek dit bevestig. Strauss & Co se webblad is gebruikersvriendelik en leersaam, en daar’s ’n skatkis van inligting. En op byna elke veiling – waarvan die meeste aanlyn gehou word – is daar werk te koop wat jou minder as ’n duisend rand uit die sak gaan jaag.

“Een van die beste obsessies om te hê is een met kuns,” het Frank gesê. “Dit is geweldig bevredigend. Jy kan byvoorbeeld nie verlief raak op ’n aandelesertifikaat nie; as mense sê hulle is lief vir aandele, sê ek vir hulle hulle moet die aandelesertifikaat uitdruk en dit raam en kyk of dit hulle gelukkig maak.”

Dit is belangrik om soveel as moontlik inligting en kennis te kry. En dis goed om raad te kry, maar maak altyd jou eie besluite. Jy koop kuns vir jouself en vir niemand anders nie.

In ‘KUNS’ is daar ’n gesprek tussen Marc en Yvan oor wat Serge vir die kunswerk betaal het:

MARC: Tweehonderdduisend. Tweehonderdduisend blare.
YVAN: Nee?!
MARC: Ek sê jou.
YVAN: Tweehonderdduisend blare?!
MARC: Tweehonderdduisend blare.
YVAN: Hy is van sy trollie af!
MARC: Hy is, nè?
’n Kort stilte.
YVAN: Aan die ander kant…
MARC: Aan die ander kant… wat?
YVAN: As dit hom gelukkig maak… Hy verdien goeie geld…
MARC: Dís hoe jy dinge sien?
YVAN: Hoekom? Hoe sien jy dit?
MARC: Kan jy nie die erns van die saak insien nie?
YVAN: Umm… Nee…
MARC: Dis vreemd dat jy die kern van hierdie storie heeltemal miskyk. Jy sien net die uiterlike. Jy verstaan nie die erns daarvan nie.
YVAN: Van watter erns praat jy?
MARC: Sien jy nie waarvandaan dit alles kom nie?
YVAN: … Wil jy kasjoeneute hê?
MARC: Sien jy nie dat Serge homself skielik, op die mees groteske wyse denkbaar, as ’n “versamelaar” aansien nie?
YVAN: Uhm, uhm…
MARC: Van nou af is ons vriend Serge deel van die aristokrasie van groot kunskenners.
YVAN: Ek glo darem nie…
MARC: Natuurlik darem nie. Vir die prys wat hy betaal het, is ’n mens deel van niks nie, Yvan. Maar hy glo dit.
YVAN: O, ek sien…
MARC: Pla dit jou nie?
YVAN: Nee. As dit hom gelukkig maak…
MARC: Wat beteken dit: as dit hom gelukkig maak?! Watse soort filosofie is dit hierdie, as dit hom gelukkig maak?!
YVAN: Solank niemand benadeel word nie… 
MARC: Maar natuurlik word iemand benadeel! Ek, byvoorbeeld. Ek is onthuts, ou kêrel, ek is onthuts en om die waarheid te sê ontsteld. Ja, ja, dit ontstel my om te sien hoe Serge, iemand van wie ek hou, toelaat dat die vel oor sy ore getrek word, en dít deur pure snobisme. En dat hy blykbaar nie meer ’n greintjie oordeel het nie.

“Niemand wil vir ’n fool gevat word nie,” het Frank gesê. “Daarom is dit vir Strauss & Co so belangrik om deel van die opvoedingstaak te wees en hoekom ons webblad so ’n uitstekende bron is.”

Hy vertel van ’n kurator van een van Chicago se groot galerye wat gevra het of hy hom vir 25 minute kan kom spreek. “Ek het hom gewys hoe Strauss & Co te werk gaan en hoe ons webblad kopers en voornemde kopers inlig en opvoed. Die afspraak van 25 minute was later 4 uur, en hy was verstom oor alles wat ons doen.”

Carel sê dit is belangrik om soveel as moontlik inligting en kennis te kry. En dis goed om raad te kry. “Maar maak altyd jou eie besluite. Jy koop kuns vir jouself en vir niemand anders nie.”

Was daar kuns wat hulle al ontwyk het, daardie een stuk wat hulle kon koop en nie het nie?

“Ek was ’n paar jaar gelede by ’n kunsmark in Madrid,” het Frank vertel. “Ek het ’n werk van die Duitse kunstenaar Gerhard Richter gesien wat my slapelose nagte gegee het. Dit het $1 miljoen gekos, wat in daardie stadium R7,5 miljoen was. Ek vertel hierdie nie om te spog nie, maar om te vertel hoe elkeen van ons daardie een storie het.

“Daar was ’n Suid-Afrikaanse kunshandelaar en ek het hom gevra wat hy dink. Hy het my afgeraai en ek het dit nie gekoop nie. Vier jaar later is dieselfde werk op ’n veiling by Bonhams in Londen vir $4,5 miljoen verkoop. Dit pla my steeds dat ek nie my eie instink gevolg het nie.”

*

  • Met dank aan Naòmi Morgan wat die teks vir ‘KUNS’ beskikbaar gemaak vir die aanhalings.
Facebook
Twitter
LinkedIn