TOYOTA MUSIEKFEES
Nomades wys sensitiwiteit, humor en virtuositeit
Produksie: The Nomadic Orchestra Live at Woordfees
Deur: Naudé van der Merwe
Die Nomadic Orchestra sal selfs die suurste pruim hulle tone laat tik. By die Daisy Jones Bar was almal op hulle voete.
Soos die Sugababes in die popwêreld en die King’s Singers in die koorwêreld het die lede van die Nomadic Orchestra – in die Balkan-klezmer-samba-afro-ska-jazzwêreld, as daar so iets is – ook geroteer en uiteindelik opgeëindig by die vyftal wat Saterdagaand op die verhoog was. Gabriel du Toit (saxofoon en stem), Jono Prest (trompet en stem), Lilavan Gangen (tromme), Matthew Belyeu (elektriese kitaar) en Andrew Middelkoop (tuba) se aansteeklike entoesiasme en musikaliteit sorg vir ’n show sonder verveling.
Die groeplede was almal jazz-studente aan die Suid-Afrikaanse Kollege van Musiek aan die Universiteit van Kaapstad, en hulle infectious dansmusiek is hoofsaaklik geïnspireer deur Oos-Europese musiektradisies. Tog doen hulle eintlik net wat hulle wil, en dit werk. Soos ’n mens kan sien in die beskrywing hierbo, is die musiek nie noodwendig genre-spesifiek nie, en daarom voel dit of dit vernuwe, al klink dit terselfdertyd bekend, en al kan ek insien hoe dit vir sommige mense eentonig kan raak.
Die groep is aanvanklik in 2009 gestig om by die Balkanology-partytjies in Kaapstad op te tree. Dit was hedonistiese affêres. Ek weet ek was definitief by ’n paar van hulle en het die Nomadic Orchestra dus al gehoor, maar ek kan nie veel onthou nie. En dis niemand anders se skuld nie as my eie. Sedert 2009 toer hulle die land en die wêreld vol, met die hoofdoel om mense aan die beweeg te kry..
By die Daisy Jones Bar het hulle wel ál my aandag en die gehoor op hulle voete gehad met ’n kort set list van oorspronklike musiek wat hulle musikale sensitiwiteit, humor, maar ook virtuositeit ten toon stel.
By die Daisy Jones Bar het hulle wel ál my aandag en die gehoor op hulle voete gehad met ’n kort set list van oorspronklike musiek wat hulle musikale sensitiwiteit, humor, maar ook virtuositeit ten toon stel.
Die laaste keer dat ek in hierdie venue was, was dit om Zinkplaat te sien; dus kon ek nie anders nie as om hulle met daardie kurators van vroeë-2000’s- Afrikaanse studentepret te vergelyk, hoewel ’n mens nie eintlik moet nie. Appels en pere en so. Musikaal is die Nomads die Zinkplate ’n hele paar treë voor, op soek na nuwe musikale horisonne wat vorentoe kyk en nié terug nie.
As jy dus ooit kan en lus voel vir beweeg, gaan woon gerus een van hulle shows by. Dis oorrompelende pret, en as dit te balhorig raak, kan jy altyd soos ’n nomade koers kies. Ek is seker hulle sal dit selfs aanmoedig.