Feeskunstenaar

Visuele kuns
Gesin
60 Minute
3 Oktober
09:00

Daniel Naudéhet kuns aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer, en sedertdien het sy werk as fotograaf hom reg oor die wêreld geneem. Hy word gedryf deur sy ondersoekende gees, maar is veral bekend vir die oomblikke van stilte wat hy op sy ontdekkingstogte vasvang.

As feeskunstenaar bied hy aan feesbesoekers ’n eerste kykie na Still Life, ’n mikroskopiese diorama-projek waaraan hy sedert 2018 werk. Geïnspireer deur sy besoeke aan museums as kind, word insekte uit die versameling van die US se departement bewaringsekologie en entomologie sorgvuldig op handgemaakte stelle geposisioneer en afgeneem. Elke stel is gebou uit kwarts, kristalle of koraal wat deur die kunstenaar self versamel is. ’n Olieverf-agtergrond rond die toneel af. Dit word in verstommende besonderhede afgeneem deur gebruik te maak van die jongste en mees gevorderde fotografietegnieke. Die resultaat is anderwêreldse uitbeeldings van insekte wat nuwe lewe gee aan die entomoloog se eksemplaar – en die kyker in staat stel om self ’n oomblik van verwondering en ontdekking te ervaar.

Die uitstalling bring ook werk uit Naudé se vorige projekte byeen, sedert sy eerste ontmoeting met africanis-honde: Africanis (2007-2010), Animal Farm (2009-2011), Sightings of the Sacred: Cattle in Uganda, Madagascar and India (2012-2014), Bowers in Australia (2014), Pigeon Project (2016), Bovine Prophecy (2018-2019), Cattle of the Agessaam met pres. Cyril Ramaphosa (2019), en Malagasy Cockerels of Madagascar(2023). Besoekers aan die uitstalling kan die ontwikkeling van Naudé se belangstellings en styl volg, en sien hoe dit opbou tot die monumentale insekte van Still Life (2018-2026).

UitstallingUS Museum
3 tot 11 OKT 9:00-18:00

RONDLEIDING
8 OKT| 11:00