DISKOERS
Gedwonge verskuiwings: ‘Hul pyn is die kinders en kleinkinders se pyn’
Produksie: From Here to Nowhere: A History of Forced Removals in South Africa’s Past, Present and the Future
Skrywer: Jo-Ann Floris
Foto: Jo-Ann Floris (Van links is Felicia Grootboom, Maria Jaftha, Abdurahman Ramjee, Mohhadiah Rafique en Mandy Sanger)
’n Van kon jou uit ’n woonbuurt hou, en families skei.
Wanneer gepraat word oor gedwonge verskuiwings en die Groepsgebiedewet, slaan mens se gedagtes eerste na huise wat platgestoot is en mense wat uit hul gemeenskappe opgetel is en op ’n ander plek uitgespoeg is.
Maar partykeer was dit, soos in die geval van Maria Jaftha (gebore Grootboom) se dogter, so “min” as die verkeerde van. Nadat sy getrou het, en haar van nie meer “bruin geklink het nie”, het die Groepsgebiedewet gemaak dat sy nie meer kon woon waar haar gesin met die van Grootboom woon nie.
Saterdag, op ’n snikhete middag in Stellenbosch by die Woordfees, het Lauren Grootboom, meestersgraadstudent in politieke studies aan die Universiteit van Kaapstad, Maria, haar tannie, en ma, Felicia Grootboom, gebring om te vertel van die impak van ’n ander soort diskriminasie, en hoe hulle gedwing is om ’n identiteit te kies.
Lauren se tesis kyk na die sielkundige impak op mense van wie ’n deel van hul wese weggeskeur is.
Hul van en taal het gemaak dat hulle aan niemand iets moes verduidelik nie.
In Graaff-Reinet in die Oos-Kaap, waar hul familie al die jare gewoon het, het hulle Afrikaans grootgeword in ’n tradisioneel bruin woonbuurt. Dit was nooit nodig om die vraag “Wat is ons?” te beantwoord nie, verduidelik Maria, want dit was nooit nodig om te regverdig dat hulle daar hoort nie.
Hul van en taal het gemaak dat hulle aan niemand iets moes verduidelik nie.
Toe gebeur twee goed: Maria se dogter trou en haar nuwe “swart van” laat die owerhede besluit sy kan nie daar bly nie, want sy is nou Xhosa (wat sy altyd was!)
Sy en haar man moes trek township toe, weg van haar familie af.
Toe, later, toe die familie hulle in die Wes-Kaap kom vestig, moes hulle skielik verduidelik “wat” hulle is. Hulle kon nie Xhosa praat nie, al was hulle Xhosa.
“Ons het nooit gehoor dat onderskeid gemaak word tussen ons en die gemeenskap nie. Afrikaans was die gemeenskaplike taal, Xhosa was die familietaal, maar ons het dit nie aan identiteit gekoppel nie.”
Pyn en verlies stop nie by een generasie nie, want jou kinders kan nog kwaad wees vir die onreg wat hul ouers aangedoen is.
Omdat hulle nie vlot Xhosa gepraat het nie, was dit aanvanklik moeilik vir hul nuwe, swart gemeenskap om hulle volkome te aanvaar, want hulle het nie in ’n gerieflike boksie gepas nie.
Hoekom word ons gedwing om ’n eng definisie van identiteit te kies, is die vraag wat Lauren vra.
Mohhadiah Rafique, ’n navorsingsielkundige, meen dit is nou tyd om die identiteit van bruinwees te omarm. Dit moet dieselfde wees vir elke gemeenskap.
Vir Felicia is dit nie so maklik nie.
“Ek sukkel steeds met identiteit. Is jy bruin, is jy Xhosa? Dit alles is omdat ander mense my bewus maak heeltyd dat daar ’n onderskeid gemaak moet word.
“As ons nie ’n verandering bring nie, wie sal? Die regering gaan dit nie doen nie.”
Mandy Sanger van die Distrik Ses-museum sê die grootste verlies van skeiding is die verlies aan waardigheid, wat mense se sin van self vernietig.
“Ons moet sagter met mekaar wees. Baie sagter. Pyn en verlies stop nie by een generasie nie, want jou kinders kan nog kwaad wees vir die onreg wat hul ouers aangedoen is. Dis instink dat ons diegene wat vir ons kosbaar is, wil beskerm. Hul pyn is die kinders en kleinkinders se pyn.”
Mohhadiah sê mens kan nooit weer terugkry wat jy verloor het nie.
“Daar is krag daarin om vorentoe te beweeg.”
Mandy voeg by: “Identiteit is nie in klip gegiet nie. Ons moet krities wees, maar ons het ook die vermoë om onsself te reinvent.”