MUSIEK
Die magic van Goosen
Produksie: Blommetjie gedenk aan my
Skrywer: Nadine Petrick
Foto’s: Verskaf
Die wind waai op Stellenbosch. Die reën sak in vlae neer. Plasse water staan buite die lokaal waar Anton Goosen en sy band binnekort gaan optree. Hulle doen ’n soundcheck, dit klink soos Sima Mashazi wat sing. Die liedjie is bekend, maar ook nie.
Ek kan nie met sekerheid sê hoeveel Anton Goosen-shows ek al in my lewe gesien het nie – ek weet net dit is báie. Etlike permutasies van bands, in etlike vreemde en verskillende venues, by verskeie feeste en in vele rokerige kroeë wat ruik na ou bier, urinal blocks en despair. Party van Anton se grappies is al jare lank dieselfde (hoekom mors met ’n wenresep?); die donkerbril kom ook al ’n ruk en die lang hare was waarskynlik in die 80’s laas ’n Huisgenoot-feature. Maar die grootse hiervan is, natuurlik, die musiek. O, die musiek.
“Dis net die wind, my kind.”
Die venue sit bykans volgewaai. Heelwat ouer mense, maar nie uitsluitlik nie. Daar is studente, jong werkendes, ma’s, skoolkinders. Mense sing en klap saam; daar is selfs ’n pa en sy klein seuntjie wat eenkant staan en dans. Dis die magic van Goosen, so skuins voor die ouderdom van 80. “Suid-Afrika se eie Bob Dylan, ’n dying breed,” reken ’n tevrede gehoorlid ná die tyd.
Sonja Herholdt skop af met ’n mash-up version van “Jantjie” en “Waterblommetjies”. Uiteraard. “Almal dink dis die most natural thing, maar weet jy wanneer laas was Anton en Sonja saam op ’n verhoog? Baie jare laas,” sê Schalk Joubert, medevervaardiger en musiekregisseur, oor dié show wat by die KKNK gedebuteer het.
“Daardie wind waai weer by my voordeur in. Hy maak my hart mos aan die sing.”
Sonja het 52 van Anton se liedjies oor amper vyf dekades opgeneem, hoor ’n mens later. Sy klink nog net soos tóé wanneer sy “Harlekyn” en “Katryn Katryntjie” en die huilmooi “Straattroebadoere” sing. Hulle spot met mekaar, die twee, so tussen die singery deur. Ou-ou vriende en musiekvennote. Die deernis ooglopend.
Waarom nog ’n show met al desjare se treffers, wonder mens dan. Die splinternuwe album, Sirkels, is immers baie onlangs vrygestel. Baie water het in die see geloop sedert “Boy van die suburbs”.
“Ons gedenk éintlik die tydloosheid en relevansie van sy musiek,” sê Schalk. En ’n mens onthou dit weer – “Hanoverstraat”, “Silver de Lange”, “Moya” (dit beteken ook “wind”), “Brief vir Simoné”… een ná die ander, ’n uur en ’n half lank, sit jy weer stomverbaas oor die groot aantal treffers wat Anton in sy roemryke loopbaan neergepen het. Al het jy dit al ’n honderd keer – nee, báie meer – gehoor.
Ek dink terug aan die Anton-magic wat my help grootword het, deur dinge gehelp het en wat ek by min of meer elke studentepartytjie saam met ’n klein bietjie wyn ingekry het.
Soos soveel keer vantevore is Schalk op die bass, Lise Swart sy medesanger en regterhand, en Illimar Neitz op kitaar. Blake Hellaby op klavier verleen ’n nuwe, vars dimensie aan die vertoning, en ’n absolute hoogtepunt is Sima Mashazi se vertolking van “Beste Henry”, in Engels vertaal as “Dear Henry”, deur Anton self.
“Om die wind te sit en soen en met iemand oud te word.”
Ek voel effens sentimeel ná die vertoning. Oud, selfs. Hoe het dit gebeur dat iemand so onsterflik soos Anton Goosen nie meer jonk is nie? Hoe is “Ken jy ta’ Mossie”, “Klein bietjie wyn” en “Josie” nie meer nuwe songs nie? Terwyl ek hierdie skryf, dink ek terug aan die Anton-magic wat my help grootword het, deur dinge gehelp het en wat ek by min of meer elke studentepartytjie saam met ’n klein bietjie wyn ingekry het. Dis jare gelede. En al is van sy grappies nog presies dieselfde, is ’n mens dankbaar oor élke geleentheid wat jy kry om hom te kan sien speel. Gebruik jou kans.
Dankie vir die tunes, Anton. Daai blommetjie is nét vir jou.
Blommetjie gedenk aan my
1 Oktober | 16:00
80 min | HMS Bloemhof-sentrum
R180-R260 | R210-R290 by die deur