KLASSIEKE MUSIEK
Mengelmoes van antieke klanke... of nie?
Produksie: Sonografie: Grepe in roots en blues
Skrywer: Naudé van der Merwe
Foto’s: Verskaf
Uhadi en stem, Khoe-instrumente, klanke van die Eerste Nasies uit Noord-Amerika, en ’n Nederlander met ’n kitaar. Dié mengelmoes van klank het Woensdagmiddag die Fismersaal gevul in Sonografie: Grepe in roots en blues.
Vooraf sê dr. Carina Venter, ’n musikoloog en dosent aan die US se musiekdepartement en een van die regisseurs van die produksie, sonografie het te make met “storievertel deur klank”.
En dis presies wat ’n mens gekry het: Mense het klank geproduseer en stories is vertel. Dit is aangebied deur die Woordfees, die US en Womad (of dan World of Music, Arts & Dance), ’n organisasie wat in die jare tagtig deur die Britse rocker Peter Gabriel gestig is. Volgens verskeie bronne het Womad al miljoene mense in meer as 32 lande bereik, en die kerndoel is om die wêreld se uiteenlopende musiek-, kuns- en dansvorme te bevorder.
Dis moeilik om ’n resensie oor iets soos Sonografie: Grepe in roots en blues te skryf, want eintlik het dit meer soos ’n ervaring gevoel as ’n produksie of konsert. Dit was baie informeel, met die storievertelling, improvisasie en samespel wat eerder nader was aan iets wat jy sou verwag gedurende ’n repetisie in die voorkamer van iemand se huis of onder ’n boom langs ’n stroom. Die gehoorligte in die Fismersaal was deurgaans aangeskakel, wat onmiddellik die “produksie”-gevoel verminder.
Die Iskwew-sangers uit Kanada, drie vroue wat tromme en ander instrumente speel terwyl hulle sing, was baie treffend. Jy kan natuurlik YouTube-video’s hiervan kyk, maar dis nie gereeld dat ’n mens dié soort musiek in Suid-Afrika kan ervaar nie. Hulle het ook met gemak aangepas en geïmproviseer met die musiek van Ncebakazi Mnukwana (stem en uhadi). Mnukwana is ’n dosent in etnomusikologie aan die US en het ’n aantrekkingskrag wat veroorsaak dat jy na haar wíl luister.
Dit was baie informeel, met die storievertelling, improvisasie en samespel wat eerder nader was aan iets wat jy sou verwag gedurende ’n repetisie in die voorkamer van iemand se huis of onder ’n boom langs ’n stroom.
Tussendeur het Garth Erasmus ’n selfgemaakte ghôrrah (kalbasboog) en mondboë gespeel –die instrumente van sy eie Eerste Nasie-herkoms – en ook ’n voordrag gelewer: “Colonised to undermine my intelligence… Got genocide for being generous”.
Gereeld het Joep Pelt, wat duidelik talent het en veral inspirasie put uit blues, die Karibiese Eilande en musiek van die Amerikaanse suide ook op sy kitaar getokkel, gesing, en sy eie ervarings van mynsluitings in Nederland en persoonlike verlies in Suid-Afrika vertel. Dit het dalk te lank aangehou.
In ’n mediaverklaring oor die produksie sê Venter die konsep van die byeenkoms is “ ’n bewuste poging om musiek nie te reduseer tot die gerieflike cliché van sosiale harmonie nie, en om deur klank moontlike toekoms te verbeel en dalk selfs te aktiveer”. As die punt dus was dat Pelt se vertellings en musiek die geleentheid moes oorheers om sodoende sosiale harmonie te kniehalter en te vermy, was die produksie geslaagd. ’n Mens sou meer van die ander musici wou hoor.
Oor die algemeen was dit steeds goed om iets by die Woordfees te sien wat nie gereeld oor die deursnee-feesganger se pad kom nie.
*
Geen verdere shows.