RESENSIE

Skouspelagtige 'Weg-wêreld' waardige wenner

deur Herschelle Benjamin
Produksie: Weg-wêreld
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Die jaarlikse nasionale ATKV-tienertoneelkompetisie is ’n groot hoogtepunt op alle leerders se kalenders. Dis die enigste kompetisie waarin dramaleerders tot die kruin van hulle skoolloopbane kan styg indien hulle deel van die wenproduksie is. Vanjaar se wenproduksie is tydens die fees aangekondig en dit is Hoërskool Parel Vallei se Weg-wêreld. 

En wat ’n waardige wenstuk is dit nie! Met by tye meer as 40 leerders op die verhoog, lewer die jongelinge ’n ontdekkingsreisstorie met indrukwekkende tegniese vernuf. Dit laat jou verstom oor die moontlikhede wat kreatiewe oplossings op die verhoog kan voortbring. Jy kan sien dat die regisseur Darryl Spijkers en natuurlik ook die leerders, saamgespan het om ’n verruklike tienerteaterstuk voort te bring. 

Die stuk bevat toneelspel, poppespel, koorspel, dans, musiek en my gunsteling-element: kleurvolle kostuums vir die hoofkarakters en vir die res van die ensemble. Dit alles werk mee dat verbeelding en ontvlugting op die verhoog aangebied word. Dit is nie ’n maklike taak nie. 

Hoewel jy kan sien dat die afronding van die stuk indrukwekkend is vir hoërskoolvlak, word dit ook ondersteun deur ’n wonderlike teks. Daarin is heerlike komiese lyne, patos vir dramatisering en soms selfs, poësie. Dit is ’n storie wat die Romeo & Juliet-argetipe gebruik, maar verplaas in ’n ander konteks. Dis ook hier waar jy gedagtes van West Side Story kry. Die wêreld waarin die karakters leef, Droomland, is plek-plek ’n idilliese plek wat sekerlik vir sommige mense aanloklik kan wees. Daar is reëls, regulasies en ’n spesifieke waardestelsel waaraan almal moet voldoen: ’n afkeer van die “slegte dinge van die ou wêreld”. Die Droomland-burgers word beskerm deur die woordeboek en daar is als waarvan hulle moet weet – hoe die lewe is, hoe hulle in daardie lewe moet leef en waarteen hulle moet waak wat hulle droomwêreld kan beskadig.

Dis verstommend dat jy in ’n tienertoneelstuk ’n verwikkeldheid oor kommunisme en diktatorskapregimes kan sien. Dalk was dit net my ervaring en nie noodwendig so vir die stampvol saal met mammas en pappas, wat hulle jong talent ’n staande applous gegee het nie. En met reg mag hulle trots wees. 

’n Mens wonder tog oor die musiekkeuses in die stuk: Dit wek sterk emosies op, wat tonele ondersteun en ’n vlak van vermaak bied. Dis nie dat dit my soseer gepla het nie, maar die gebruik van klavierbegeleide klanklandskappe, wat herhalend gebruik word om ’n liriese gehalte in die stuk te wek, kan plek-plek dalk met ander instrumentele landskappe vervang word. Maar dis regtig nie fel kritiek nie. Dis miniskuul. 

Dis ’n jammerte die stuk was net twee keer by die fees opgevoer. ’n Mens wens die jong talent oefen ook hulle kunstenaarstamina en dat meer gehore dit onder oë kon kry. Dit staan met reg langs al die ander produksies deur professionele akteurs op die program. Mag daar nog speelvakke en ander optredes van die stuk wees wat vermaaklik is met opwindende jong talent. Geluk, julle! 

Facebook
Twitter
LinkedIn