ATKV-Tienertoneel se wenproduksie: Wegwêreld Slegwêreld

Spier Toneel
Afrikaans
60 Minute
18 Oktober
10:00
19 Oktober
14:00
R80-R130 | R110-R160 by die deur

Die 61ste wenner van ATKV-Tienertoneel maak vanjaar ’n buiging by die Toyota Stellenbosch Woordfees, kort ná die naelbyt-eindronde in Kaapstad. Meer as 3 600 tieners van reg oor Suid-Afrika het deelgeneem aan die kompetisie, die ATKV se oudste projek, met ’n rekordgetal van 211 produksies. Slegs agt produksies kwalifiseer vir die eindronde. Kom ervaar en vier vanjaar se wenners saam met ons, en laat Suid-Afrika se jong talent jou meevoer met hul verhoogvernuf.

Ná die groot oorloë is die wêreld wat ons geken het weg. Net ’n klein gemeenskap van Gekiesdes het agtergebly en ’n muur gebou om hulle vry te hou van al die skynbare slegte gevare wat in die onbekende donker van die wegwêreld skuil. Vir die genot van gevolge en met vrees en bewing heers Brumilda Brummel oor hierdie vreemde groen kolonie wat klokslag elke Maandag melktert bak en woorde by die mark ruil op die ritme van 80’s-musiek uit ’n ashoop. Want dit is hoe die Groot Boek se reëls dikteer en hulle die eksklusiewe kultuur en taal van Droomland suiwer bewaar. Die belofte van lig op die horison is wat die jong held, Tomie, teen die rigiede beperkinge laat rebelleer en op die roepstem van “Molobasie” laat antwoord. Saam met Hanlie en die Sagtes durf hulle die reis na ’n nuwe wêreld aan waar unieke mense mag wees wie hulle wil wees. Die afstand was toe nooit so ver nie… Tomie se bereidwilligheid om te luister en begeerte om te verstaan, steek verdere grense van begrip vir “ander” oor, terwyl Brumilda tot die dood toe sal veg om haar taal en haar mense van kulturele infiltrasie en assimilasie te isoleer.

Met Hoërskool Parel Vallei in samewerking met die ATKV

Regisseur en skrywer Darryl Spijkers