Bring die kleinspan na hierdie prettige lees-en-leer-sessie, aangebied deur drie kinderboekskrywers en handwerk-boffins. Dit is ideaal vir jong boekwurms met ’n kort aandagspan – ons skuif tussen drie stasies, elkeen met ’n oulike aktiwiteit: Leer hoe om jou eie slym-konkoksie te maak saam met Engela Duvenage (Die grillerigste, stinkste en slymerigste goeters in Suid-Afrika). Maak diereplakkers saam met Heléne Booyens (Safari-aktiwiteitsboek); en woeker met wol saam met Rita Trafford van die Originals-wolwinkel (Sakkie die skapie en die wilde, wollerige dag). Ons kweek ’n liefde vir lees terwyl ons plak, bou en gril. (Die sessie is geskik vir kinders onder 10, en hulle moet deur ’n ouer vergesel word.)