’n Aantal ietwat verloopte toneelspelers kom bymekaar in ’n tyd van krisis in ’n geslote ruimte – ’n gestig, ongebruikte saal of dalk net ’n gevangenis. Weg van die sogenaamde “normaliteit” daar buite besin hulle oor die liefde, lewe en dood. Saam, onder ’n wolk van politieke realiteit in ’n tyd van onafwendbare verandering, speel die hand vol digters ’n oorlewingsritueel uit in die tradisie van die eerste Griekse dramas, of “Bokliedere”. Soos in Aristophanes se komedie Die voëls onderhandel die lotjie ’n moontlike toekoms onder ’n nuwe orde, maar rituele verg bloed, ’n skerp mes en ’n sondebok… Boklied is die digter Breyten Breytenbach se opspraakwekkende eerste drama. Dig. Omvattend. Skreiend. Snaaks. Oorweldigend.