Première-wenner: Die Koning en sy Bruid

Toneel
Afrikaans
Geen o/13’s (S)
60 Minute

28 September

18:00

2 Oktober

13:00
R140 | R170 by die deur

In die wenproduksie van die jaarlikse Première-teaterfees kan jy die beste opkomende akteurs, skrywers en regisseurs van die US se dramadepartement sien. Wat gewaarborg is in dié toonvenster vir die volgende geslag teatermakers is boeiende storievertelling en uitsonderlike toneelspel. Meer as 80 studente in 11 produksies het aan vanjaar se fees deelgeneem.

Dit is die jaar van onse Heer 1745. Die trousseau is gepak. Die lemoene gepluk. Die lakens skoon gewas. En deur die hele Kaap de Goede Hoop word daar feesgevier, want boer Willem Aarde en beskeie bruid Amélie Bruére trou! ’n Huwelik beteken die vereniging van families. Van plase. Van rykdom. ’n Bruilof beteken ’n erfgenaam! (Of erfgename, indien die Bruid só jonk en só rein en só vrugbaar is soos die een in hierdie storie.) En daar is die geklink van glase in afwagting van die huweliksnag. Maar met die sluit van die slaapkamer en die ooptrek van die hemelbed, kom boer Willem en bruid Amélie van aangesig tot aangesig met onvermydelike, bindende en goddelike plig – ’n plig wat verder strek as net die stroop van klere. Want vir dié bruidspaar op hul huweliksnag, wag daar baie meer as net gevlekte lakens.

‘n Première-produksie

Met Jeanne-Marié Koekemoer, Heinrich Wentzel, Angelique Filter

Regisseur Nichola Viviers
Skrywer Nichola Viviers, Jeanné-Marie Koekemoer
Verhoogbestuur Nicola Joubert
Tegniese versorging Jairus Fritz