Met: Ayden Croy, Zane Meas
Marc is as tiener uit die huis verstoot nadat hy die waarheid omtrent sy seksualiteit onthul het en sy pa dit nie kon aanvaar nie. Jare later keer hy terug – nie net uit ’n pligsgevoel nie, maar omdat dit moontlik die laaste kans is om die stukke van sy gebroke verlede weer aanmekaar te sit. Sy pa, nou verlore in die spookwêreld van Alzheimer’s, herken hom nie meer nie. Hy verwar hom met sy ander seun, wat in herinnering bewaar is, onaangeraak deur teleurstelling of tyd. Marc kies om nie sy pa reg te help nie en onderwerp homself aan ’n stille, pynlike proses: om uiteindelik werklik gesien te word.
Vervaardiger: Danielle Retief
Produksiehuis: Reckless Haven Productions
Regisseur: Roberto Kyle
Draaiboekskrywer: Roberto Kyle
Skrywer: Gerald Steyn
Redigeerder: Mark Haines
Kinematograaf: Johannes Schoutsen
Klankbaan: Pieter G. Nel
Die kykNET Silwerskermfees is ’n gesogte en volwaardige Suid-Afrikaanse en Afrikaanse filmfees wat al meer as ’n dekade lank die plaaslike filmbedryf ondersteun, bemagtig en ontwikkel. Terwyl ’n aantal vollengte speelfims van gesoute filmmakers hul wêrelddebuut of Suid-Afrikaanse buiging by dié prestige-geleentheid maak, is die fees ook ’n toonvenster vir ontluikende talent: ’n Rits kortflieks wat met die nodige mentorskap onder die feesvaandel vervaardig word, laat jaarliks die kollig op hulle handewerk val. Die filmfees wys met dank 6 kortfilms van opkomende filmmakers, 4 kortfilms van gevestigde filmmakers en 5 kortdokumentêre uit die 2026 kykNET Silwerskermfeesprogram. Vollediger inligting oor die kortfilms is beskikbaar by www.woordfees.co.za. Hierdie kortfilms is onder mentorskap van kykNET en M-Net vervaardig en het by die 2026 kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai gepremière.