Die geliefde Matiekoor se program fokus op kultuurskatte van reg oor die wêreld. Gehore kan hulle regmaak vir ’n klankreis propvol nuwe koorkomposisies en verwerkings, met nuwe a cappella-weergawes van onder meer “The Crossing” (Johnny Clegg) en “Blou” (André Swiegers). Twee hoogtepunte is “Kasar mie la gaji” (Die aarde is moeg) van Alberto Grau en “Balleilakka”, ’n verwerking van die gewilde lied uit die Indiese lokettreffer The Boss.