Dis vanjaar 25 jaar sedert Valiant Swart se ikoniese album Deur die donker vallei uitgereik is. Ter herdenking daarvan het die album onlangs op viniel die lig gesien. By die Woordfees word dit gevier met ’n konsert waarin die oorspronklike orkeslede van die album gaan speel: Schalk Joubert, Albert Frost en Simon Orange. Die konsert word opgedra aan die ontslape tromspeler Vernon Swart, wat ook die ikoniese kunswerk vir die albumomslag geskilder het. Die manne dans en sing… en die kitare laat huil soos in die óú dae!