ONDERHOUD

7 vrae oor 7 doodsondes

Marina Griebenow stel aan Matthew Wild, regisseur van Die sewe doodsondes van Kurt Weill en Bertolt Brecht, sewe vrae om agter die kap van die byl te kom met dié produksie.
Foto’s: Nardus Engelbrect

1. Die Sewe Doodsondes was die laaste projek waaraan Kurt Weill en Bertolt Brecht saam gewerk het. Jy en Charl-Johan Lingenfelder het al dikwels kragte saamgespan, onder meer aan ’n klomp musiekblyspele vir die voormalige Fugard-teater. Hoe het dit gebeur dat julle begin saamwerk het aan Die sewe doodsondes en hoe komplementeer julle mekaar?
 

Ek, Charl-Johan (vertaler en musiekregisseur) en Louisa Talbot (choreograaf) het al talle kere saamgewerk aan musiekblyspele vir die Fugard-teater, waaronder The Rocky Horror Show, Cabaret, Funny Girl, West Side Story en meer onlangs Kinky Boots. Omtrent halfpad deur die pandemie het ons mekaar vir ontbyt gekry. Al die teaters was gesluit en al drie van ons het baie werk verloor.

Kort nadat die Fugard-teater finaal sy deure gesluit het, het ons begin praat oor moontlike projekte vir wanneer die teaters weer oopgaan. Ek en Charl-Johan is albei versot op – en gefassineer met – Kurt Weill se musiek en die werk wat hy gedoen het saam met Bertolt Brecht. Charl-Johan het onder meer gepraat oor The Threepenny Opera, iets wat hy nog altyd wou aanpak. Ons kom toe op die gedagte om Die sewe doodsondes te doen, ’n fantastiese werk wat operasang, dans en drama integreer op die mees onkonvensionele en innoverende manier denkbaar. Dis iets waaroor ek omtrent al 20 jaar lank obsessief is, en ek soek lankal ’n geleentheid om dit na die verhoog toe te bring. Ons begin toe daaraan dink om dit in Afrikaans te doen. Dit het pas in Suid-Afrika in die openbare domein beland; dus kon Charl-Johan ’n nuwe vertaling doen en dit verwerk vir ’n kabaretorkes van sewe, waar die oorspronklike werk ’n baie groot orkes verg.

As student op Stellenbosch het Charl-Johan vir Hennie Aucamp geken in die tyd toe Hennie baie Brecht en Weill in Afrikaans vertaal het. Toe Hennie met daardie werke besig was, sou hy soms ’n groep studente byeenkry, onder wie Charl-Johan, en sy nuwe vertalings om die klavier toets. Ons het geweet hy het belang gestel in Die sewe doodsondes, maar was nie seker of hy dit probeer vertaal het nie. Ons is dus na die Universiteit van Stellenbosch waar daar ’n fantastiese Aucamp-argief is. Ons was natuurlik uit ons vel van blydskap toe ons ontdek hy het ’n letterlike vertaling daarvan begin doen wat in manuskripvorm in die argief was. Dit was ’n woordelikse weergawe uit die Duits wat hy as die eerste fase van die vertaling gedoen het. Hy het egter nog nie uitgekom by die deel waar die woorde by die musiek moet pas nie, maar hy het heelwat geskryf oor die belang van die werk. Trouens, ons begin die opvoering met ’n proloog waarin Carel Nel fragmente uit Hennie se akademiese werk voorhou en wys hoe belangwekkend Hennie die werk geag het. Ek dink Hennie sou só opgewonde gewees het om die werk in Afrikaans te sien op ’n Suid-Afrikaanse verhoog.

2. Waarom kies julle hierdie spesifieke werk op hierdie spesifieke tydstip? Waar lê die relevansie daarvan en die beweegkrag daaragter? Dit klink byna soos ’n beskrywing van die politiek tans.

Die produksie is ’n bytende satire oor kapitalisme en die verbruikerwese, met Brecht se Marxistiese ideologie ’n sterk kenmerk van die hele stuk. Brecht sou hom nie in sy wildste drome die soort verbruikersamelewing kon voorstel waarin ons vandag woon nie, en ook nie die mate waartoe verbruikersdruk die samelewing sou oorheers nie. Nou is daar boonop probleme in die vorm van klimaatsverandering wat die ekstreme aard van verbruikersdruk en sosiale media bepaal. Kritiek op die verbruikerswese is dus nou relevant. Die interessante ding daaromtrent is ook hoe vroue en vroueliggame uitgebuit is deur die patriargale samelewing. Ek dink die boodskap kom sterk deur en plaas die werk stewig in die hede.

3. Is dié werk ’n “ballet chanté” (ballet wat gesing word) of kan ’n mens dit ewe maklik ’n kabaret of selfs opera noem? Dit klink na ’n moeilike genre om vas te pen…

Dis ’n strikvraag. Die stuk laat hom inderdaad nie vaspen wat genre betref nie. Die skeppers daarvan het dit ’n “ballet chanté” genoem, met ander woorde ’n ballet wat gesing word. Dit is geskryf vir ’n hoofsanger en vier manlike operasangers wat die rol van Anna se familielede sing. So ’n binnegrappie is dat die bas die rol van die ma sing, as ’n fopdosser. Dit verg ook die deelname van ’n dansgeselskap. Hulle het dit nie regtig as ’n opera beskou nie, maar met die kombinasie van vroeë 20ste eeuse musiek en operasang, tesame met die dans, word die stuk deesdae algemeen deur operamaatskappye opgevoer. “Musiekteater” is dalk ’n beter kategoriebenaming.

Die groot vraag is gewoonlik wie die hoofrol moet sing. Een van die vroeë weergawes het die stemparty baie hoog geplaas en dit beoog vir iemand met behoorlike stemopleiding. Dit is taamlik vroeg in haar loopbaan vir Weill se vrou en muse, Lotte Lenya, geskryf. Sy het egter die stuk eers omtrent 20 jaar later regtig gewild gemaak toe sy heelwat ouer en haar stem baie laer was. Mense het sedertdien gewoond geraak daaraan om dit in die laer toonaarde te hoor, met kabaretsangers oftewel chanteuses wat dit sing. Ute Lemper het groot sukses daarmee gehad, asook Marianne Faithful. Bette Midler sou in die jare sewentig ’n groot herlewing daarvan gedoen het in New York, maar ongelukkig het daar dadels van gekom. Ek dink dit sou ’n opname wees wat ons almal graag sou wou hê! Operasangers het begin om dit weer in die oorspronklike toonaard te sing en ’n hele paar het selfs al opnames gemaak, onder wie Anne Sofie von Otter en Brigitte Fassbaender.

Die werk is sterk beïnvloed deur die Berlynse kabaret. Hennie Aucamp het dit die “apoteose van die kabaretgenre” genoem, oftewel ’n stuk “totale teater”, want hy het geglo die kabaret-eienskappe daarin is opgehef tot ’n simfoniese of baie verfynde vlak. Die werk pas nie gemaklik in enige van die genres waaraan ons gewoond is nie. Ek hou daarvan hoe hulle die grense laat vervaag. Dit is waarskynlik waarom so baie operageselskappe dit deesdae opvoer. Dit gee operasangers die geleentheid om te werk in ’n styl wat ’n sterk element van die Berlynse kabaret het. Boonop is daar Brecht se sterk teks… én natuurlik sy ideologie.

Die stuk laat hom inderdaad nie vaspen wat genre betref nie. Die skeppers daarvan het dit ’n “ballet chanté” genoem, met ander woorde ’n ballet wat gesing word.

4. Wat was Charl-Johan se benadering tot Hennie Aucamp se vertalings: Het julle dit opgedateer of bygewerk, of het julle sy vertaling net so gebruik?

Charl-Johan het Hennie Aucamp se weergawe goed leer ken. Dit het hom begeester en hy het selfs sekere woorde en uitdrukkings daaruit oorgeneem. Omdat dit egter nie ’n weergawe is wat ’n mens kan sing nie, moes Charl-Johan sy eie vertaling doen sodat die woorde en gedagtes met die ritmes en note kon ooreenstem. Die weergawe wat die gehoor gaan hoor, is dus Charl-Johan se teks en verwerkings, gegrond op die oorspronklike Duits en ’n grondige kennis van Hennie se weergawes.

 

5. Dit klink na ’n enorme produksie. Ek is bly om te sien jy en Louisa werk weer saam. Hoe lank het julle gehad om dié produksie die lig te laat sien? Ek veronderstel jou opera-ervaring en -agtergrond het handig te pas gekom?

Die omvang van die produksie is werklik groot. Daar is 20 kunstenaars op die verhoog en ons het agter die skerms ook met ’n groot klomp mense gewerk. Nadat ek en Charl-Johan die manuskrip van Hennie Aucamp gekry het, het ons vir Cornelia Faassen van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (Nati) en Saartjie Botha van die Woordfees genader oor die moontlikheid om ’n nuwe weergawe daarvan te doen. Albei het onmiddellik belang gestel en ons met raad en daad bygestaan. Dis natuurlik ’n grootskaalse produksie en ’n waagstuk om dit by ’n fees op te voer.Ons is dus baie dankbaar teenoor Nati en die Toyota US Woordfees wat uit die staanspoor ons visie vir dié produksie gedeel het.

Ek voel sterk daaroor dat dit veral grootskaalse teater is wat die swaarste gekry het weens die pandemie. Natuurlik was dit moeilik vir alle vorme van teater, maar dit was makliker vir kleiner produksies met net een of twee spelers om weer te begin. Dit is die grootskaalse teaterproduksies wat baie, baie erg onder die beperkings op gehoorgetalle deurgeloop het, veral ook weens die intense geldelike druk wat die pandemie op die bedryf afgedwing het.

Een van die redes waarom ons hierdie produksie wou doen, was om groot werk weer op die verhoog te kry wat sang, dans en toneelspel insluit. Ons is baie gelukkig om van ons oudkollegas te hê wat destyds by die Fugard-teater met ons saamgewerk het aan groot produksies. Ons is verheug dat ons iets van dié skaal by die Woordfees kan aanbied. Die produksie self bestaan uit een bedryf en is net 50 minute lank, met ander woorde baie kompak. Ons het ongeveer drie weke gerepeteer daaraan en toe een week op die verhoog gehad – hoewel dit kort is, is alles gechoreografeer en daardie proses was baie intensief.

6. Waarom het jy besluit om Bianca la Grange te gebruik in die rol van Anita? Watter kwaliteite maak haar geskik om dié rol te sing?

Ek én Charl-Johan het al verskeie kere met Bianca saamgewerk. Haar sterkste optrede vir my was as Anita in West Side Story waarvoor sy baie erkenning gekry het. Ek was nog altyd gretig om Die sewe doodsondes aan te pak met Bianca, want ek het gedink die inhoud sal haar stem baie goed pas. Ons wou ook kyk na maniere om Brecht en Weill vir ’n nuwe geslag op te voer. Daar is natuurlik ’n gevestigde kabarettradisie in Suid-Afrika, maar ek en Charl-Johan wou graag sekere dinge nuut en anders doen.

Bianca het werklik die ongelooflikste instrument. Sy is ’n merkwaardig sanger. Ek het haar stem leer ken toe ons West Side Story gedoen het. Daar is min sangers wat ek ken wat die rol van Anita so goed kan sing. Haar gawe is dat sy dié rolle – wat ook klassieke vereistes stel – kan sing sodat dit toeganklik is. Bernstein het die rol van Anita geskryf met ’n hele klomp operavereistes en ’n wye register, maar dit moenie soos opera gesing word nie. Ek het gedink Bianca is perfek in die rol. Sy sing dit selfs beter as beroemde kabaretsangeresse. Sy het ’n beter stem en is tegnies sterker as byvoorbeeld Lotte Lenya. Bianca het haar eie manier gevind om dié soort kabaret te sing. Sy werk baie hard aan die teks en haar diksie, want ons doen nie die produksie met subtitels nie.

 

7. Wat sal jy aan die feesgangers sê wat Brecht nie ken nie om hulle aan te moedig om Die sewe doodsondes by te woon?

Iemand het my laat weet hy was baie verlig om te sien dis ’n eenbedryf en net 50 minute lank. Hy het die naam Brecht gesien en was bekommerd dat dit 3½ uur lank gaan wees, soos sommige van Brecht se werk. Doodsondes is kompak en ’n kort bekendstelling aan die kuns van Weill en Brecht. Die musiek is hoogs toeganklik en draal selfs daarna nog in jou kop.

Die aksie is vinnig en dra by tot die opwinding van uitstekende sang. Daar is natuurlik ook uitmuntende dans wat die aksie aanvul en aandryf. Ons het ’n groep van sewe jong dansers wat werklik briljant is. Daar is ook die diepsinnige teks wat gekenmerk word deur ’n besonderse ideologie. Dit sal dalk nuut wees vir sommige mense, maar dit hou jou vir 50 minute vasgenael. Ek hoop ook dit stel die werk van Brecht en Weill voor aan ’n nuwe geslag, sodat daar in die toekoms meer van hulle werk gedoen kan word.

Dit is belangwekkend dat ’n stuk soos dié die eerste keer in Afrikaans gedoen word. Die gehoor sal sien hoe baie respek Hennie Aucamp vir die stuk gehad het, hoe dit sy eie werk beïnvloed het en hoe dit die Afrikaanse kabaret en teater in die algemeen raak. Met die opvoering van Die sewe doodsondes by Oude Libertas word ’n gaping in die Afrikaanse teatergeskiedenis gevul. Ek hoop van harte die gehore sal dit saam met ons geniet.

  • Die sewe doodsondes se vertonings is op 12, 13, 14, 15 en 16 Oktober om 20:00, Oude Libertas-teater. Bespreek by Webtickets.
Facebook
Twitter
LinkedIn