RESENSIE

Shakespeare se oerwoudsprokie betower

deur Herschelle Benjamin
Produksie: A Midsummer Night’s Dream
Foto’s: Verskaf

Die jaarlikse tradisie van ’n William Shakespeare-stuk by die Maynardville-opelugteater in Kaapstad is ’n hoogtepunt op die plaaslike kunstekalender, dié keer by die Oude Libertas-amfiteater. En vanjaar se weergawe van A Midsummer’s Night Dream is ’n triomf deur die gesoute regisseur Geoffrey Hyland met ’n talentvolle rolverdeling op die verhoog wat as gedugte ensemble betower. 

Dié Shakespeare-feeverhaal bring misverstande, gender-omruilings, poetse, identiteitsverwarrings en liefdesdoepas wat liederlik skeefloop, mee. Dis een van sy toneelstukke wat die meeste ter wêreld opgevoer is en daarom is die taak om iets anders daaruit te skep, uitdagend vir enige regisseur en spelers. Waar en hoe ontgin jy iets meer kontemporêr sonder om die betekenis te verloor? Dis juis in hierdie taak wat die sterk regisseurshand van Hyland presteer. 

Sy verhoog, wat ’n oerwoud simboliseer, is eenvoudig, maar waarin ander wêrelde ook kan bestaan. Dit is effektief omdat die spasie juis genoeg ruimte bied vir sy akteurs om met sterk liggaamlikheid hulle karakters se vertolk. Hier is dit veral akteur Caleb Swanepoel wat as Puck ’n uitmuntende vertolking met sy stem en liggaam lewer. Hy veroorsaak chaos vir die vier Athene-geliefdes en is ook die enigste karakter wat die vierde muur breek om met die gehoor te praat. 

Die storie wat eintlik handel oor die huwelik van Theseus en Hippolyta, onderskeidelik vertolk deur Roberto Kyle en Chi Mhende, handel oor ’n groep amateurakteurs wat ’n toneelstuk vir ’n troue repeteer. Die gedeeltes sorg dat die kinkels jou laat skaterlag soos Nick Bottom deur fee-koning Oberon se doepa in Langoor verander. Dis ’n meesterlik vertolking van akteur Mark Elderkin. Wat ’n talent om so moeiteloos die gehoor in totale vervoering aan te gryp en te laat lag.

Kyle en Mhende, wat ook met gender-omruiling fee-koning- en -koningin, Oberon en Titania, speel, is ’n wulpse en gerekende besluit deur die regisseur. Chi se stem is bekoorlik vir haar manlike sowel as vroulike karakter en Kyle kleur sy twee karakters met verskillende kryte wonderbaarlik in. 

Die magiese oerwoudverhaal word versterk deur ’n gepaste klankbaan, wat die verbeelding laat vloei, sonder om te veel op die musiek staat te maak vir die opwek van emosies. Hier is dit die toneelspel en Shakespeare se woorde wat op die voorgrond is. ’n Verdiende pluimpie aan Michaeline Wessels vir haar kostuums.

Aan die einde van die amper twee ure lange stuk wat in die Oude Libertas-amfiteater speel, wonder ’n mens of daar nie maar ’n kort pouse moet wees nie. Dis nie dat die storie jou aandag verloor nie, maar dis die ongemak om so lank te sit, veral as die temperatuur val soos die dag verdonker. 

My enigste kritiek is dat die akteurs aan die begin van die toneelstuk net versigtig met hulle hande moet wees, wat soms die aandag steel. Jy kan sien dat hulle elke woord en sin van die bekende Shakespeare-komedie se betekenis verstaan, maar soms net te veel hul swaaiende hande gebruik om uitdrukking van emosies te versterk. Dis nie nodig nie – als is reeds daar. 

Facebook
Twitter
LinkedIn