RESENSIE

Genotvolle chaos

Marchelle van Zyl
Afval
Japie Krige-saal, Paul Roos-gimnasium
Foto’s: Nardus Engelbrecht

My goeiste, dit was nou waarlik ’n klug! Nee, regtig. Hier word dit egter as ’n kompliment gebruik. Afval is ’n komedie wat jou vir ’n uur laat vergeet van die absurditeit wat ons “die lewe” noem, deur met groteske oordadigheid ’n wonderlike nuwe absurditeit op die verhoog te skep waarheen ons kan ontsnap. Ontsnap is dalk ’n trigger-woord in hierdie konteks. Maar wag, kom ek begin by die begin. 

Die Van der Merwe-gesin woon in ’n doodgewone voorstedelike huis. “Dis ’n baie mooi huis,” verklaar die ongemaklike boyfriend, Hugo (Jean du Plessis), wat vir die eerste keer by die ouers kom kuier. Elsa, uitstekende vertolk deur Mia van der Merwe, verjaar. Haar enigste begeerte vir hierdie mooi dag is om ’n odentlike, normale familie-ete te hê. 

Maar soos ons gou uitvind, is daar niks aan dié huishouding “normaal” nie. 

Sien, Johan van der Merwe, die pa, het ’n ding vir messe, en ons kom agter hy is “mos” nou eintlik ’n reeksmoordenaar. Terwyl die kos dus op die stoof prut vir die verjaardagete, daag hulle dogter Minke (Minke Marias) en haar aanstaande daar op. Maar Pappa is slordig en een van sy slagoffers (Trompie Booyens) ontsnap en probeer wegkruip en wegkom van die pa se bloeddorstigheid.  

Die ouma (Chrezelle Strydom) se kop is dof en sy soek alewig na ’n kat. En net om die dag verder om te krap daag die ongelukkige buurvrou, Alita, (Nichola Viviers), daar op met ’n verjaardagkoek en ’n hart wat vol is, terwyl die diaken (Damian de Villiers) besluit dis die perfekte tyd om te kom kollekteer. 

Gita Fourie se teks is slim en gevat, en Jean du Plessis as regisseur is in dié geval eerder ’n orkesleier wat almal op die regte tyd op die regte verkeerde plek moet kry. 

In die tipiese styl van die klug, word die alledaagse tot absurditeit verhef. Dit is grotesk en oordrewe, en sommer net groot pret. 

Dis ’n fynverweefde teks met ’n ensemble wat hulle tydsberekening moet ken om die storie ritme en spoed te gee. Deure gaan oop en toe, mense kom en gaan, jaag mekaar, jag mekaar, mis mekaar en vind mekaar in ’n georkestreerde chaos. 

Met die opening was die ritme in die tweede helfte ’n bietjie af, maar dit was steeds vermaaklik. 

Gita Fourie se teks is slim en gevat, en Jean du Plessis as regisseur is in dié geval eerder ’n orkesleier wat almal op die regte tyd op die regte verkeerde plek moet kry. 

Die ensemble is jonk en talentvol en ons sal beslis weer van hulle hoor. Die produksie is geslaagd vir wat dit is – ’n absurde, genotvolle ontvlugting. 

  • 13 Oktober om 18:00 en 14 Oktober om 22:30. Geen o.16’s nie. Bespreek by Webtickets.
1400x300 Starlet BannerArtboard 1
Facebook
Twitter
LinkedIn