RESENSIE

‘Agteraf’ is ’n chaos wat wérk

Willem Bester
Agteraf
Japie Krige-saal, Paul Roos-gimnasium

Agter die skerms van ’n kindertoneelstuk is die akteurs Brandon (Jurgen McEwan), Herman (Waldemar Schultz) en At (Francois Toerien) druk besig. Daar is teks, kostuums en rekwisiete om te tem, en onder die probleme van ’n ontoereikende produksie lê die akteurs se eksistensiële krisisse vlak. Brandon is die groentjie, nog heel blinkoog oor teater, en sal enige rol, ongeag hoe klein, met erns aanpak. Daarenteen verlang Herman terug na die gloriedae van die streeksrade, en At kan nie ophou praat oor sy een groot filmrol etlike jare gelede nie. By dit alles blyk die jongspan in die gehoor ook nie engeltjies te wees nie.

Diegene wat bang is dié sinopsis klink soos die opstelling vir ’n uitgerekte, louwarm binnegrap oor die teaterbedryf… moenie vrees nie. Ferdinand Bekker se Agteraf is ’n eerder ouskoolse komedie in die lees van ’n klug. Maar pleks van deure wat klap, ’n wegkruipery agter meubels en karaktervergissings, storm “akteurs” op en af van die “verhoog”, hulle mis seinwoorde, vergeet die dialoog… alles tot op die punt van algehele ineenstorting, dalk in meer as een sin. Daar is ’n totale chaos, en dit is skreeusnaaks.

Natuurlik lê die kuns van sulke komedie daarin om seker te maak die “chaos” word nie ’n ware chaos nie. Hierin slaag die regisseur Gaerin Hauptfleisch en die akteurs uitstekend en met goeie tydsberekening.  ’n Mens vermoed selfs die toneelstuk binne die toneelstuk sal met min moeite as ’n selfstandige produksie werk… dalk net nie vir kinders nie.

Die rolbesetting is ook goed gekies. Die gespierde McEwan is nommerpas as die amper oorgretig ywerige Brandon, wat uiteindelik die nugter anker in die driemanskap blyk te wees. Schultz is die meer besadigde Herman, maar sy irritasie vlam alte lekker op as dinge nie op stryk bly nie. En Toerien speel At aanvanklik met ’n hoogdrawende vermetelheid, wat ’n latere maniese episode waarin hy in ’n toiingrige olifantkostuum rondstorm, soveel snaakser maak.

’n Mens vermoed selfs die toneelstuk binne die toneelstuk sal met min moeite as ’n selfstandige produksie werk… dalk net nie vir kinders nie.

Intellektuele komedie is Agteraf nie. Maar anders wil ’n mens dit nie hê nie. (Vir diegene wat ’n bietjie groente by die maaltyd soek, is daar darem ’n oomblik wanneer een karakter monolooggrepe uit Hamlet, Macbeth en A Midsummernight’s Dream prewel.) Daar is ook ’n skerp stukkie sosiale kommentaar wanneer Brandon opreg vra: “Wat is ’n streeksraad?”

Die enigste ding wat effens gepla het, was die klankversterking. Nie omdat ’n mikrofoon hier en daar halstarrig was nie, maar omdat dit besonder luid was. ’n Mens verstaan dat die akteurs soms praat van agter ’n skerm – wat die “verhoog” van die “kleedkamer” en “verhoogvleuels” skei – maar hier het ons tog bedrewe akteurs wat geen hulp met projeksie nodig het nie.

 

  • 15 Oktober om 17:00 en 16 Oktober om 16:00. Geen ouderdomsbeperking nie. Bespreek by Webtickets.
Facebook
Twitter
LinkedIn