RESENSIE

’n Gesanik oor die liefde wurg met selfsug

deur Herschelle Benjamin
Produksie: All my ex-lovers are dead
Foto’s: Jeremeo Le Cordeur

Die feesgids se beskrywing van All my ex-lovers are dead lui dat dit ’n “vars, snaakse en eerlike blik op die liefde en verhoudings” bied wat “deur die samesnoering van vertelkuns, klanklandskappe en multimediaprojeksies” die storie van They vertel. Dit klink op papier, net voor die begin van die vertoning, as ’n belowende stuk deur die aktrise Maria Vos en skrywer-regisseur Dara Beth. Maar dis ongelukkig waar dit bly – ’n perfekte advertensie vir ’n “winskopie” van ’n produk wat met die oopmaak by die huis jou soos ’n gek laat voel vir die bedrog waarop jy ingekoop het. Ons almal was al daar. Dis ’n pynlike gevoel van skaamte vir jou liggelowigheid. 

In All my ex-lovers are dead voel die resensent te nagekom deur ’n stuk wat met sy gestrooptheid jou laat voel asof jy vir meer as ’n uur verwurg word. Ek vermoed dit was ook die gevoel vir die oorgrote meerderheid gehoorlede wat tydens die vertoning heeltyd na hulle horlosies gekyk het en sommige wat al met die begin van die curtain call vinnig uit die saal verdwyn het. Dit was met ’n drafstap wat anders lyk as wanneer gehoorlede hulle moet haas om hulle volgende vertoning te haal. Nee, hierdie is soos daardie onmiddellike opkoms vir die eerste asemteug uit ’n versmoring wat met ’n carpe diem-gevoel aangegryp word. 

Die teks is beslis eerlik. Dit bevat herkenbare staaltjies van romantiese ontmoetings, verhoudings en die onafwendbare ongemak in sekere “liefdessituasies” wat daarmee gepaardgaan. Die karakter They vertel van haar eie gevoel van ongeloof vir die e.e. cummings-soort liefdeslewe en dan die gewaarwording van die bedrog wat deur boeke en films verkoop word oor DIE LIEFDE. Sy vertel van haar sekslewe met 20-jarige mans wat steeds sterretjies op hulle beddegoed het en van vroue wat sy wil vra om te trou in ’n winkel soos wat sy haar arm na ’n blikkie baked beans reik. Beth spot hier met haarself en dis plek-plek lieflik soos die goed gedetailleerde stories vertel word, maar wanneer dit voel soos ’n terapiesessie wat op enige plek tans in die wêreld met hordes van mense gebeur, wonder jy of dit nie tog selfsugtig is nie? Hoekom moet ’n gehoor kom luister na ’n gesanik van ’n karakter se liefdesliewe wat geen dramatiese storielyn, aksie en tikkie vermaak bied nie? Ek vra dit in alle vertroue vir die talent betrokke, wat behoort te gaan nadink oor hoe om ’n storie te verpak met vernuftigheid, selfs al waarsku hulle in die begin dat die teks niks “profound” sal bied nie of “met enige novelty” aangebied sal word nie.

Of ten minste kan die teks ondersteun word deur die teatraliteit van die verhoog in te span en met akteurspel wat jou oorwen in haar karakter se misnoeë, opgewondenheid en verwarring. Vos as aktrise se stem vul nie die teatersaal genoeg met gebruik van haar diafragma nie. Sy vertolk They net te klein dat dit soms onhoorbaar is. Dis asof sy vir ’n kamera speel, waarin die kleinheid van ’n vertolking dalk benodig word, maar hier is sy op ’n oop en kaal verhoog waar sy ons verbeelding op ’n reis moet neem. Daar is ook min aksies. Sy staan net en praat. O, en sy brei met haar hande deurgaans wol wat uit ’n groot koppie wat uit die lug hang, vloei. En sy eet iewers in die middel van die vertoning ’n pakkie tjips. En daar is ’n koppie tee waaruit sy ook elke nou en dan drink. Ek vermoed dis eintlik water vir haar stem wat vermoei word. 

Dan wonder die resensent ook waar is die klanklandskappe en multimediaprojeksies wat beloof word in die feesgids… Dit kan tog nie wees dat ’n 8 minute lange stemboodskap wat speel, en klanke van ’n stort en ’n pak tjips, as ’n klanklandskap voorgestel word nie? Die multimediaprojeksies het ook nooit gebeur nie. G’n visuele stimulasie soos beloof is nie. Ek sal nie eens praat van die beligtingsontwerp nie.

Dalk was daar begrotingsbeperkings. Dalk was daar ’n moeilike repetisieproses. Dalk was daar ’n stryd om die stuk na die fees toe te bring. Dalk was daar beperkings en logistieke probleme. Die resensent weet ál te goed hoe kunstenaars soms sukkel om al die regte bloublokke in plek te kry om ’n waardige produksie te lewer. Maar die wonder van teater is dat ’n stuk en kreatiewe span soms, ongeag al daardie dinge ’n merkwaardige stuk werk na vore kan bring wat gehore in vervoering kan laat. Darem hulle aanraak, selfs al is dit so ver verwyderd van hulle eie lewe. Dis die wonder van skeppende kunste wat kán werk, maar in All my ex-lovers are dead word die moontlikhede nie eens naastenby ontgin nie. 

Dit is ongelukkig vir die resensent ’n plig om die span terug na die witbord te stuur.

 

Facebook
Twitter
LinkedIn