RESENSIE

Om die bul by die horings te pak

deur Nadine Petrick
Produksie: Bul
Foto’s: Jeremeo Le Cordeur

Soms moet ’n mens die bul by die horings pak en reguit praat. Alle teaterstukke is nié vir almal nie. Soos hierdie een. 

Op papier was ek baie opgewonde, want al die regte teaterboksies word ge-tick. Nicole Holm as regisseur? Hell, yes. Nico Scheepers as vertaler en verwerker? Ja, absoluut. Wian Taljaard as Tony? Genade, ja. Nie net ’n mooi gesiggie nie, hy kan act ook. René Cloete? Al jare lank ’n aanhanger. Die oorspronklike teks deur Mike Bartlett, wat oorhoofs handel oor kantoorpolitiek en potensiële werkloosheid, is ook ’n gegewe waarmee die meeste mense kan identifiseer. Kantoorspasies en disgruntled werknemers bied immers ryke stof tot nadenke. En tot komedie, donker of ander.

Hoekom het ek, en ander mense in die gehoor, dan so gesukkel?

Kom ons begin by die begin: Drie kantoorwerkers, Isabel, Tony en Thomas, wag om te hoor wie afgelê gaan word. Dit op sigself is ’n heerlike bron van potensiële spanning. Dit vat egter die kapasiteit van ’n baba-whippet om te raai wie die deur gewys gaan word. Arme Thomas, soos vertolk deur Tollie Parton, ek bedoel, Wynand Kotze, is net te papbroekig, slap, kort en vet (als dinge wat sy kollegas hom toesnou), om sy werk in dié korporatiewe masjien te behou. Natuurlik maak Isabel en Tony dit ook nie vir hom maklik om ’n potensiële gelyke kandidaat vir die posisie te wees nie, hulle span saam teen hom, al vind hulle ook mekaar afstootlik. Hulle lieg, hou hom uit die loop met belangrike inligting, gaslight die blou hoppende frustrasie uit hom uit, boelie en teister. Want hulle kan. En hy vat dit en vat dit. Soms verloor hy sy humeur so effens, maar hy verval telkens terug in die rol van die slagoffer. Die allerslegste eienskappe van mense word hier blootgelê, want wanneer dit gaan oor oorlewing, gaan net die sterkste en die slimste, asook die mees geslepe, oorleef.

Steeds klink dit na teater wat moet werk, dan nie? 

Dis nie nét tematies slim nie. Scheepers weet hoe verwerkings werk. En hoe en waar om die Britse gegewe in ’n plaaslike konteks die beste te maak werk. Holm weet presies wat sy met haar akteurs en haar ruimte doen. Die slinksheid van veral Tony en Isabel word nie net in woord nie, maar ook in daad deurgevoer. Hulle gly soos gevaarlike katte rondom die lompe Thomas. Hulle kloue kom uit en meer as een maal word die stomme Thomas vloer toe gestuur. ’n Deurlopende aanduiding van sy demise. Enter Peggy Tunyiswa as die baas wat die aflegging moet doen. Sy blink en skitter in ’n fluweelsweetpak, nét so glibberig soos die twee kandidate wat duidelik haar gunstelinge is. Thomas staan géén kans nie, sy ken dan nie eens die arme man se naam nie. Hy probeer sy bes om te wys dat ook hý verdien om oorweeg te word, maar Tony en Isabel is te slim vir hom. Selfs al weet Isabel wat die potensiële aflegging die arme siel gaan kos. Gewetenloos, opportunisties, siek.

’n Mens wil so graag hê dit  moet als werk en bymekaarkom. Maar iewers deur die loop van die 70 minute het die pap op die vloer geval. Die grappies (maar ook die empatie) droog op, al het een of twee mense in die gehoor hulle allerbeste gegee om die komiese raak te sien. Donker of ander. ’n Mens voel ongelukkig op geen manier werklik jammer vir Thomas nie. Whatever, is die beste wat ek kan doen. Voor my in die gehoor sit iemand wat ek ken, en wat weet dat ek iets moet neerpen. Ná afloop van die produksie draai sy om en sê bloot: “Sjoe. Sterkte.” Ook die baie flou applous (behalwe vir die paar wat hard gelag het) was aanduidend van iets wat iewers skeefgetrek het.

Dalk was dit nie hulle beste aand nie, dalk is dit hierdie kyker, dalk was dit ’n kombinasie van verskeie faktore. Ek wens ek kan my vinger presies daarop lê, maar ek kan nie. En dit is jammer. 

Facebook
Twitter
LinkedIn