RESENSIE

As die mure kon praat… en die donkerte uithou

Jo-Ann Floris
Die halwe huis
Skrywer: Ricardo Arendse; 
Regisseur: Lee-Ann van Rooi; Met Marlo Minnaar
kykNET Hoërskool Stellenbosch
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Soos ek ouer geword het, het ek besef dat monsters nie net onder die bed of in donker gange vir ons wag nie. Dat hulle blyplek nie net in kinderboeke of op die TV is nie, maar dat daar monsters in die strate loop en in huise woon. Huise wat van buite af heel lyk, maar van binne half is.

So skop die toneel af, en van hier af is daar geen omdraaikans vir gehoor óf akteur nie.

Bumper (Marlo Minnaar) is sy naam, glo omdat hy so lekker vet is. Die swart hond van depressie kom vroeg reeds met hom maatjies maak, “met sagte oë wat ’n mens intrek”. Maar soos Bumper ouer word, grom die hond harder, en die sagte kyk in sy oë verdwyn.

Maar ek loop nou die storie vooruit.

’n Mens wonder wat met die stuk sou gebeur het as dit ’n ander akteur was, maar hierdie is een van daardie gevalle waar alles só goed saamvloei dat jy nie die een van die ander kan skei nie. Met Minnaar se onbetwiste talent gee hy stem en gestalte aan die donkerte wat ’n mens kan omvou, en hoe jy, teen jou sin, die siklus van geweld kan voortsit. Al wil jy nie.

Hy het nie ’n maklike lewe gehad nie, en sy pierewaaier-pa het nie geskroom om die hand teen hom en sy ma te lig as die drank begin stoei het binne-in hom nie.

Jy moet buig of breek, het sy ma gesê as sy op ’n Maandagoggend sit en die naweek se seer onder foundation begrawe. Daar het ’n tyd gekom toe sy haar en Bumper se klere in ’n swartsak gooi en die taxi vat, weg van geweld en die drankduiwel af. 

Maar die euforie van vryheid het net so lank gehou soos haar laaste bietjie geld.

En Bumper? Wel, die lewe het hom aanhou knyp en die hond Shadow het aanhou grom. Selfs toe hulle op Oudtshoorn was, voor hy en sy ma die pad gevat het, was dit ’n harde bestaan.

’n Plek waar asvaal laaities stink na son, armoede en kak gedagtes. Waar mense en diere vasgemaak is aan dieselfde paal. Ketting om die nek. Ewe bedonnerd en lus vir moeilikheid. Waar jy die meeste oggende met ’n “Jou ma se poes!” wakker word.

Toe tref hulle die stad: Vry van ’n gewelddadige pa, maar vasgeketting aan swaarkry en die stryd om oorlewing.

Met Minnaar se onbetwiste talent gee hy stem en gestalte aan die donkerte wat ’n mens kan omvou, en hoe jy, teen jou sin, die siklus van geweld kan voortsit.

Die teks is slim geskryf. Niks daarvan voel opgemaak of fiksie nie. Alles is geloofwaardig, ’n lived experience. Minnaar gedy onder die uitdagings wat die verskillende karakters aan hom stel. (Terloops, dit is een van die produksies waarvoor ’n mens by die Woordfees móét tyd maak.)

Net soos die wêreld waarvan die stuk praat, deins die karakter en die uitbeelding daarvan nie terug nie. Met die veglus en heldemoed van ’n straatbrak pak Minnaar – deur Bumper en die ander karakters – die kwessies een vir een aan. Dit maak ’n mens ongemaklik, maar dis reg so. Dit smeer ’n bietjie salf aan as die werklikheid te pynlik raak, en dis ook die lewe. Dit maak nie saak hoe sleg dit gaan nie, daar is altyd iets om oor te lag.

My ma kon lekker dans. Die meeste kort vrouens doen. Seker omdat hulle voete so naby hulle heupe is… een trap van die voet stuur ’n sein op na die heup in dubble quick time, en voor jy dit weet, beweeg die voete en heupe saam. Dan kom die skouers en die nek… My ma se voorouers kom uit Malesië, die ander kant is Xhosa. Dodelike kombinasie van Afrika- en Oosterse bloed.

Ja, die lekker lag en vrolikheid het nooit lank gehou nie. Binne oomblikke sou sy ma pleks van danspassies doen, moes koes vir die houe.

Al wat ek kon doen, was om my broek nat te maak en dan in my eie pis te sit.

Die stuk hou nie terug nie. Nie oor gesinsgeweld nie, nie oor die donkerte wat in ’n mens kan broei en groei nie, en nie oor armoede wat jou vasgeboei hou nie. Sodat jy dinge doen wat jy nie wil nie, maar omdat jy moet.

Ter wille van oorlewing.

In Bumper se lewe het een magsmisbruik (sy pa) net plek gemaak vir ’n ander (die jong Moslemvrou wat vir hom kos en geld gegee het in ruil vir seks). Hy was maar 16 jaar oud. Later was dit nie net die vrou nie, maar ook haar vriendinne. Dit het hom bietjies-bietjie laat sterwe binne, maar daai ding van oorlewing… jy doen wat jy moet. “Liewer buig of breek,” het hy sy ma se stem gehoor.

Dit smeer ’n bietjie salf aan as die werklikheid te pynlik raak, en dis ook die lewe. Dit maak nie saak hoe sleg dit gaan nie, daar is altyd iets om oor te lag.

Die stuk preek nie; dit konfronteer jou, staan bors aan bors en dwing jou om die werklikheid in die oë te kyk. Dit vat in agter die mure en toe deure, en jy kan nooit weer wegkyk nie. Dit versinnebeeld ’n weerloosheid, ’n weerbaarheid van die mens se psige, maar ook daai oomblikke tussenin waar jy dink alles is okay. 

Bumper word die mens waarteen hy die hardste baklei het om nié te word nie, maar anders as sy pa is daar die awareness. Dit vreet aan sy binneste en voed die swart hond… wat al hoe hongerder raak.

Bumper het sy eie slaansak gevind
wat hy in die hoekie sit
wat nou moet bid
dat die houe stop

’n Mens verlaat die saal verontrus. Jy begin dink wat jy beter kan doen. Jy begin worry oor wat jy aan ander doen. Jy worry oor ’n klomp goed. Jy besef daar is nie wonderkure en pilletjies wat help nie. Maar jy kan maar net mindful met ander omgaan, wetende dat almal met iets in hulle binneste stoei. 

Ek het gedink aan my ma en hoe sy die waarheid deesdae op haar gesig dra. Geen Oil of Olay of fondasie nie. Hoe nog ’n man se skaduwee haar helderheid kom wegneem het. Hoe haar klein voetjies sukkel om met haar heupe te kommunikeer. Hoe sy deesdae slegs lag wanneer sy ongemaklik of skaam is.

 

  • Saterdag 15 Otober om 20:00 en Sondag 16 Oktober om 10:00. Ouderdomsbeperking 16 jaar. Bespreek by Webtickets of koop kaartjies by die deur.
Facebook
Twitter
LinkedIn