RESENSIE

Die eensame dans van ouerskap

Marchelle van Zyl
Die Moeder
kykNET Hoërskool Stellenbosch
Foto’s: Nardus Engelbrecht

“Probeer dít nou in woorde uitdruk,” sê iemand vir my met betraande oë na afloop van die openingsproduksie van die debuutstuk Die Moeder op die Toyota US Woordfees. 

Ja, wonder ek. Hoe verwoord ’n mens wat nou net hier voor jou afgespeel het?

Die Moeder vertel ’n universele verhaal van moederskap. Anna (Sandra Prinsloo) word gekonfronteer met ’n leë huis nadat haar seun, Nikolas (Ludwig Binge), die huis verlaat het en verlief raak op ’n meisie wat hom oënskynlik van die huis af weghou. Anna se man, Pierre (Dawid Minnaar), is ’n besige sakeman wat gereeld weggaan op sakereise en seminare. 

“Ek is bewus van ’n groot leemte,” verklaar sy.

Sy drink te veel, is op medikasie en verdink haar geliefdes van verraad, ontrouheid. Én dan ervaar sy ’n beklemmende, angstige verwerping en eensaamheid. Sy los stemboodskappe vir haar geliefde Nikolas, maar sy afwesigheid weergalm in ’n leë inbox. 

Die produksie begin heel vrolik. Anna teug jolig aan ’n drankie en dans op haar eie in haar voorstedelike huis. Sy is alleen, maar lyk heel gelukkig en in beheer van haar lewe. Ons neurie saam terwyl sy dans op vrolike musiek: 
But you gotta make your own kind of music
Sing your own special song
Make your own kind of music
Even if nobody else sings along.”

Maar geleidelik kom jy agter nie alles is pluis nie. Die musiek en die werklikheid word versteur. ’n Onderliggende onrustigheid skemer deur soos wat Anna haar greep op die werklikheid verloor terwyl eensaamheid, isolasie en verlatenheid toeneem. Saam met Anna is ons onseker wat is die werklikheid en wat die narratief wat net in Anna se kop afspeel. Die lyne tussen werklikheid en verbeelding, fantasie en eie onrealistiese vrese, angs en geestelike versteuring speel voor ons af.

Prinsloo neem ons bedrieglik warm en verwelkomend aan die hand op ’n reis deur Anna se geïsoleerde lewe. Sy trek jou nader in ’n asembenemende dansklem, in ’n onophoudelike tiekiedraai van aftakeling en regressie, tot sy jou intrek in haar kontekslose, vreesaanjaende, irrassionele wêreld van demensie waar jy in paralelle waarhede verdwaal en nie meer weet watter dansbaan ’n lugspieëling is nie. 

Ludwig Binge speel die rol van die afwesige seun. Sy spel is sensitief en subtiel. Sy uitbeelding van die liefdevolle seun van sy ma se fantasiewêreld teenoor die liggeraakte, afstandige seun is genuanseerd en geloofwaardig. Sy deernisvolle spel skep magiese momente wat lank ná die tyd by jou spook. 

Sy trek jou nader in ’n asembenemende dansklem, in ’n onophoudelike tiekiedraai van aftakeling en regressie, tot sy jou intrek in haar kontekslose, vreesaanjaende, irrassionele wêreld van demensie waar jy in paralelle waarhede verdwaal en nie meer weet watter dansbaan ’n lugspieëling is nie. 

Olwagen se vertaling van die Franse dramaturg Florian Zeller se teks is gevat, skerp en voel waar en eg. Elke bedryf rafel uit tot die punt van absurditeit, net om weer oor te begin asof niks gebeur het nie. Anna se belewenis van die werklikheid word oor en oor uitgespeel totdat niemand weet wat is versinsel en wat is waarheid nie. Het Nikolas regtig gisteraand kom kuier of was dit net wensdenkery? Het haar man regtig ’n verhouding met ’n ander vrou of nie?

Teater sluit vir ons deure oop na mense se harte en emosies. Dit beeld ingewikkelde verhoudings uit, dit lewer kommentaar, maar selde kry teatermakers dit reg om visueel te wys wat in iemand se kop afspeel. Christiaan Olwagen (teks en regie) en sy A-span slaag uitstekend daarin om die denke en drogbeelde wat in Anna se verbeelde werklikheid afspeel, uit te beeld deur slim kamerawerk, skerms, klank, musiek, beligting en uitstekende spel.  

Die moeder is ’n produksie wat al jou sintuie inspan. Jy ruik die eiers en geroosterde broodjies, Loki Rothman se klankbaan kruip nog vir ure ná die produksie in jou ore rond, elke stoel in die teater is ’n goeie sitplek, met die akteurs wat op die verhoog verfilm word en wat op ’n groot skerm agter die stel geprojekteer word. Die kamera raak jóú oog, en so word die kykers as ’t ware die spieël waarin die akteurs hulleself sien. En jy jouself in hulle. Dit is één van die tegnieke wat Olwagen en sy uiters talentvolle span gebruik om van die produksie ’n uiters persoonlike ervaring te maak. 

’n Mens wonder ook oor die titel en hoekom dit Die moeder is pleks van ’n Moeder. Watter verskil maak ’n lidwoord? As ’n mens na die reaksie op die gesigte van die gehoor kyk, weet jy hoekom. Ons herken haar met deemoed. Ons simpatiseer met haar, ons herken haar, maar in ons harte hoop ons dis nie mý ma, jóú ma of, erger nog, ’n toekomstige sélf wat hier uitgebeeld word nie. 

Anna en Nikolas dans om en mét mekaar om ’n plek in mekaar se lewe uit te trap. Die musiek is ’n perfekte klankbaan vir die dissonansie van hulle verhoudings. Hulle passies ’n delikate dans wat die verlies van onskuld en kompleksiteit van ouer-en-kind-verhoudings uitbeeld. Binge, Prinsloo, Olwagen en sy tegniese span dans ’n teaterdans wat nog lank onthou sal word. ’n Dans van onvergeetlike vergetelheid. 

Aan die einde van die produksie ween Jacques Brel saam met die moeder: “Ne me quitte pas”, sing hy. 

Die trane vloei in die saal. Régte trane. Ook op die verhoog.

Almal vee af en wonder hoe ’n mens op ’n Maandagoggend so verlate kan voel. Brel begelei ons uit die saal: 

“Moenie weggaan nie.”

“Moenie weggaan nie.”

“Moenie weggaan nie.”

“Moenie weggaan nie.”

  • 12 Oktober om 20:00, 13 Oktober om 10:00, 14 Oktober om 13:00 en 16:30 by die kykNET Hoërskool Stellenbosch. Dit het ’n ouderdomsperk van 16. Bespreek by Webtickets.
1400x300 Starlet BannerArtboard 1
Facebook
Twitter
LinkedIn