RESENSIE

Seggenskap oor die self

deur Marina Griebenow
Produksie: Die vegetariër
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Dit is seker vreemd om ’n resensie oor ’n Suid-Koreaanse roman wat in Afrikaans aan die suidpunt van Afrika as ’n drama opgevoer word, met ’n storie oor die onnutsige Skotse komediant Billy Connolly te begin.

Connolly se boek Rambling Man, wat oor sy vele reise handel, word egter vandag (Donderdag  12 Oktober) in Londen bekend gestel. In ’n onderhoud met BBC4 vanoggend vertel hy hoe hy op ’n keer kaal gedans het by die Noordpool, met net sy stewels aan en sy banjo. Dít met die temperatuur -28°C. “Dit was wonderlik,”  sê hy laggend. “Dit was bevrydend om vir daardie rukkie ’n deel van die wêreld uit te maak, pleks daarvan om ’n instrument te wees wat deur die wêreld gebruik word.”

Dit was ’n paar oomblikke waarin hy algeheel seggenskap oor homself en sy eie lyf gehad het, iets wat dikwels ontbreek in die lewens van vroue soos Yeong-hye, die hoofkarakter in die skrywer Han Kang se boek The Vegetarian. In Kang se verhaal ontbreek die humor egter en vier fisieke en psigiese geweld en brutaliteit hoogty, dermate dat Yeong-hye se ondergang onafwendbaar is.

Dit is juis nadat sy aanhoudend drome gevul met geweld en drogbeelde gehad het dat Yeong-hye, die gedwee en onopvallende vrou van mnr. Cheong, besluit om op te hou met vleis eet en sommer alle diereprodukte ook, iets ongehoords in die Suid-Koreaanse kultuur. Haar besluit en eenvoudige daad om seggenskap oor haar dieet toe te eïen, is die begin van ’n reeks gevolge en gebeure wat aanvanklik deur jou as leser of gehoorlid as absurd afgemaak kan word. As die gebeure egter tot hulle logiese konsekwensie deurgevoer word, is die uiteinde onvermydelik grotesk en tragies.

Die gemeenskap se reaksie en haar familie se pogings om beheer oor haar te kry, maak haar net meer vasberade om by haar besluit van onthouding te bly, maar selfs dít ruk uiteindelik hand uit. Almal baklei oor haar, nie om haar ontwil nie, maar om hulle eie. Só raak sy al hoe meer vervreemd van alles en almal, selfs uiteindelik van haar eie liggaam en psige. Sy bly die instrument wat deur die wêreld gebruik word en haar begeerte ontsê word om een te word met die aarde.

Dit was vroeër vanjaar blye nuus om te hoor dat Jaco Bouwer weer sy regisseurshoed vir die teater gaan opsit nadat hy hom ’n ruk lank op film en televisie toegespits het. Die groot vraag was natuurlik watter toneelstuk hy sou kies om te doen en, soos gewoonlik, het hy met sy keuse verras. 

Die Vegetarian van Han Kang is in 2016 bekroon met die Man Booker International Prize, die eerste keer dat dit aan ’n Suid-Koreaanse boek toegeken is. Dit is puik vertaal deur Deborah Smith, ’n faktor wat dit beslis makliker moes maak vir Willem Anker wat die moeilike taak gehad het om die verwerking van die boek vir die verhoog te doen. Toe ek hom vra wat hulle daarop laat besluit het, het hy geantwoord dat hulle albei van mening was dat die boek só visueel en beeldryk was dat dit ’n uitstekende toneelstuk kon wees. Saam-saam het hulle daardie gedagte ’n werklikheid gemaak.

Die storie word in drie dele vertel, naamlik vanuit die oogpunt van Yeong-hye (Melissa Myburgh) se man, mnr. Cheong (Wilhelm van der Walt); haar swaer (Stian Bam) in ’n deel genaamd “Mongolian Mark”, en haar suster, In-hye (Tinarie van Wyk Loots). Anker en Bouwer besluit om dié struktuur te behou en as grondslag te gebruik. Diegene wat die boek gelees het, sal weet dat Anker genoeg van die kerngebeure ingesluit het dat jy nie as leser of gehoorlid afgeskeep voel nie. Diegene wat dit nie gelees het, sou dalk aanvanklik ’n bietjie verlore gevoel het, maar wel teen die einde al die drade bymekaar kon trek.

Bouwer is bekend daarvoor dat hy daarvan hou om onderwerpe te dekonstrueer en minimalisties aan te bied. Sy ontwerp vir Die vegetariër is klinies, blink en skoon. Die hiperrealisme wat baie van die Suid-Koreaanse dramas en films kenmerk, word ingespan om ander se vergrype van Yeong-hye se lewe en seggenskap aan te dui. Die speelruimte word aan drie kante afgemerk met breë wit viniellinte en die “gordyn” voor is deurskynende rooi linte wat die drie dele van die drama merk en natuurlik simbolies is van die bloederigheid van vleis en vlees. 

Bouwer speel dan met kleur teen die wit agtergrond wat na willekeur oop- en toegemaak kan word. Die linte word die toonbeeld van hoe maklik die psige geperforeer en betree kan word, asook hoe dit kan bedek en bewaar. Daarmee saam gebruik Bouwer video-beelde en ’n treffende klankbaan deur Pierre-Henri Wicomb om die sintuiglike effek van die spel sowel as die stel te verhoog.

Om al hierdie aspekte te ondervang en dit bo-op ’n skitterwit oppervlak te belig is op die ervare en innoverende skouers van Wolf Britz geplaas. Voeg daarby die skitterende maskers wat hy gemaak het vir Bam en Van Wyk Loots toe hulle Yeong-hye se ouers moes uitbeeld en ’n mens besef hy is ’n kernlid van ’n uiters kreatiewe ontwerpspan. Bridget Barker se kostuums in spatsels van groen en later in die styl van ’n sestigerblommepalet is nommerpas vir die manier waarop Bouwer kleur op die stel gebruik vir betekenis en intensie.

Een aspek wat beslis melding verdien, is die verantwoordelike manier waarop Bouwer naaktheid en geweldsdade in die loop van die toneelstuk benader. In geen stadium voel jy dat dit as nodelose geweld of naaktheid afgemaak kan word nie. Selfs tydens ’n repetisie wat ek bevoorreg was om by te woon, was ek verras om te sien hoe amper beleefd Bouwer met sy akteurs werk en seker maak dat hulle gemaklik is met wat van hulle verwag word en dat alles teks- en konteksgedrewe is. Vir sommige gehoorlede was dit nie maklike kykstof nie, maar ek is nie bewus van mense wat as gevolg daarvan die saal verlaat het nie. Hier en daar het ’n gesig in die hande gesak, maar ook net vir daardie wyle.

Vir al die akteurs is dit ’n besige en veeleisende toneelstuk. Dit sou onregverdig wees om enigiemand uit te sonder, want hulle tel onder die beste wat ons het en selde stel hulle teleur. ’n Mens moet darem net jou hoed afhaal vir die jong Melissa Myburgh wat in haar eerste groot professionele teaterrol alles op die spel plaas om aan Yeong-hye se weerloosheid sowel as vasberadenheid uiting te gee. Die meer ervare akteurs wat hulle amper ongesiens oor haar ontferm het in die moeilike tonele, ontvang ook my bewondering vir hulle bedagsaamheid en onselfsugtigheid.

Die Vegetariër is die soort toneelstuk wat ’n mens verwag om die toon aan te gee by ’n fees wat bekend is om sy letterkundige en drama-aanbod. Bouwer en sy span bring die nodige gravitas wat hulle onderwerp en temas betref, en dit verdien ’n gesprek. ’n Mens hoop dat teatergangers wat die stuk gesien het, en nog moet sien, die teatergesprek wat Vrydag om 13:30 by die Victoria Hub: Gesprekslokaal plaasvind, sal bywoon.

Een van my heerlikste herinneringe omtrent die opvoering wat ek gesien het, was die groepie vroue – die meeste wat mekaar van g’n Eva af geken het nie – wat bly sit het en die stuk uitgepluis en bespreek het volgens hul ervaring daarvan. Is dit nie wat goeie teater doen nie?

Die vegetariër het.

 

  • Die vegetariër
    HMS Rhenish
    13 Oktober 16:00; 20:30 | 14 Oktober 16:00 | 15 Oktober 10:00
    Kaartjies beskikbaar by Quicket.
Facebook
Twitter
LinkedIn