RESENSIE

Is dit uitsigloosheid in Fugard-stuk?

Marina Griebenow
Concerning the Life of Babyboy Kleintjies
P.J. Olivier-saal
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Soos gewoonlik as ’n nuwe werk uit die pen van Athol Fugard verskyn, loop die verwagtinge hoog en die senuwees knaag effens. Joune, nié noodwendig syne nie. Fugard self het gesê dis waarskynlik sy laaste werk, een wat hy in samewerking met sy vrou, Paula Fourie, voltooi het. Jy wonder heimlik: Gaan dit ’n geskikte afskeidsgroet wees van ons mees gevierde dramaturg? Gaan mense daarna terugkyk as ’n hoogtepunt van sy oeuvre? 

Die meeste gehoorlede sit reeds wanneer Fugard net voor die aanvang vinnig in ’n rolstoel die saal binnegebring en gerieflik ingerig word deur Paula, ook medeskrywer en assistent-regisseur van Concerning the Life of Babyboy Kleintjies. Die ligte verdoof effens en die eerste karakter kom die saal sing-sing binne.

Nou is daar nie meer omdraaikans nie.

Concerning the Life of Babyboy Kleintjies handel oor een van Fugard se gunstelingtemas, naamlik haweloosheid en die uitwerking daarvan op die psige en liggaam van sy karakters. Van sy mees suksesvolle dramas ondersoek dié maatskaplike euwel wat hy oral aanskou het, veral in die apartheidsjare, waaronder Boesman and Lena. Die probleem het nog geensins verdwyn nie – trouens, baie sal sê dis tans erger as ooit tevore – en weer eens kruip hy onder die vel in van die karakters wat hy gebruik om die probleem toe te lig.

Dit is veral die geval met die eerste drie karakters in Concerning the Life of Babyboy Kleintjies: Riempie (Carlo Daniels), Vink (Marlon Swarts) en Lappies (Elton Landrew), drie hawelose mans wat snags onder ’n brug oor die Eersterivier slaap op Stellenbosch. Sowel Daniels, Swart as Landrew is werklik voortreflike akteurs. 

Een van die pragtigste monoloë in die drama word in die mond van Vink gelê, en Swarts laat behoorlik reg geskied daaraan.

Patrick Curtis het ’n visueel treffende en praktiese stel ontwerp in skakerings van beton wat ongemaklik herkenbaar is. Die rivier wat vooraan die stel verbyloop, is besoedel met plastiekbottels en allerhande huishoudelike vullis. Nog ’n bekende dog hartseer gesig. Mannie Manim se beligtingsontwerp hy belig natuurlik al Fugard se toneelstukke wat in Suid-Afrika opgevoer word is atmosferies en dra by tot ’n groeiende gevoel van onheil.

Mettertyd leer ken jy die drie haweloses, elkeen met sy eie klagtes oor die lewe, waarom hy homself in dié situasie bevind en in watter mate hy ingedoen is. Riempie is die praktiese een wat probeer help waar hy kan, relatief vrolik en altyd gereed met ’n deuntjie. Daniels se lieflike baritonstem kom hom hier goed te staan. Vink kan maar net nie regkom op straat nie en hy voel konstant ingedoen. Selfs sy bedelplakkate is ’n mislukking. Een van die pragtigste monoloë in die drama word in die mond van Vink gelê, en Swarts laat behoorlik reg geskied daaraan. Hy vertel hoe sy pa, Kobus van Staden, ver gery het om sy duiwe te gaan loslaat as daar ’n wedren was. Die beeld van die voëls wat uit die vragmotor losgelaat word, eers al wapperende ’n draai vlieg en dan huiswaarts keer, moet die hartsnare roer van diegene wat dit in hulle kleintyd laatmiddag op soveel plattelandse dorpies beleef het. Lappies is die beterweterige en praatsieke een. Empatie is gewis nie sy sterk punt nie. Landrew skitter in dié rol. Die dilemma waarin hulle hulle bevind en die gebrek aan uitkomkans is sterk plaaslik, maar jy hoef nie ver te kyk om te besef dit is ook uiters universeel nie.

Die amperse bekende toneel as die manne gereed maak om te gaan slaap, elkeen met sy eie ritueel, word wreed onderbreek deur ’n luide geskree. Dis “Mal Marie” Kleintjies (Loren Loubser), ’n hawelose vrou met ’n reputasie dat sy nie al haar varkies op hok het nie, vandaar die bynaam. Op dié dag het sy ’n kosbare pakkie op die vullishoop gekry en met haar saamgebring. Binne-in die Pick ’n Pay-sakkie: ’n baba.

Die baba, Babyboy Devon Valley Kleintjies – so gedoop deur Marie – bepaal natuurlik dan die verloop van die res van die drama. ’n Mens kan nie te veel verklap nie, anders is dit geen verrassing nie. Weet maar net waarom die toneelstuk, ná ’n wens van wyle Barney Simon 60 jaar gelede teenoor Fugard, gegrond is op ’n gedig van die Duitse dramaturg en digter Bertolt Brecht genaamd Concerning the Infanticide Marie Farrar.

Ongelukkig is dit egter ook met die toetrede van Marie se karakter dat die spanningslyn platval. Haar karakter steek af by dié van die mans as ’n behoorlik getekende of volronde karakter. Die fout lê nie by Loubser nie, maar sy oortuig nooit werklik as ’n boemelaar nie. Haar hare is netjies gekap, haar wenkbroue pragtig gevorm en sy is baie skoon in vergelyking met die mans – met ander woorde, sy lyk beslis nie na een wat haar dae op die vullishope deurbring op soek na iets bruikbaars nie. En beslis ook nie een wat pas deur ’n horde gejaag is tot sy by Riempie, Lappies en Vink onder die brug kom skuiling soek het nie.

Die amperse bekende toneel as die manne gereed maak om te gaan slaap, elkeen met sy eie ritueel, word wreed onderbreek deur ’n luide geskree.

Die kind raak lastig en Marie pleeg uiteindelik ’n godskreiende daad. Binne ’n ommesientjie is dit egter vergete en sy gaan aan asof niks gebeur het nie. Sy raak skielik breedsprakig, breek die vierde muur en begin vir die gehoor “preek” oor hoe daardie kind elkeen se kind is, hoe haweloses elkeen se verantwoordelikheid is, hoe elkeen daar skuldig is aan wit bevoorregting, en dies meer. Die vierde muur is reeds in die openingstoneel gebreek wanneer Riempie omdraai en vir die gehoor verduidelik die liedjie wat hy sing, is ’n moppie. Waarom? Is dit enigsins relevant?

Dit is nie dat ’n mens beswaar maak teen die inhoud van die beskuldigings wat gerig word nie. Dit gaan daaroor dat dit ’n verhoog is en nie ’n preekstoel nie. Fugard het hom nog nooit hieraan skuldig gemaak nie. Daarvoor is sy karakterisering gewoonlik te sterk en sy sin vir storie en teater te stewig. Seker daarom dat die drie hawelose mans agter Marie sit en lyk of hulle nie weet wat om met hulself aan te vang nie.

Ná dié episode eindig die toneelstuk nie; dit stop net. Suggereer dit ’n uitsigloosheid? Dit kan tog nie. Selfs in die donkerste dae van apartheid was daar altyd hoop dat die boosheid oorwin kon word. Dit is tog sekerlik nog die geval. Aluta continua, al maak die strydrosse klaar.

  • Concerning the Life of Babyboy Kleintjies is te sien op 14 Oktober om 11:00, 15 Oktober om 12:00 en 20:00 en 16 Oktober om 13:00 & 16:00 in die PJ Olivier-saal. Bespreek by Webtickets.
1400x300 Starlet BannerArtboard 1
Facebook
Twitter
LinkedIn