RESENSIE

Teater soos opehart-chirurgie

deur Herschelle Benjamin
Produksie: Goed wat wag om te gebeur
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Verbeel jou hoe dit moet voel net voordat die narkose se verdowing inskop en jy na die operasiesaal vir opehart-chirurgie geneem word. Die vreesaanjaendheid wat jou op hol neem soos jy dink aan jou geliefdes en of jy in een stuk anderkant sal uitkom. Die vertroue wat jy in die mediese bystandspan en chirurge moet hê vir die taak wat voorlê. En die wete dat jy soos ’n dooie vis opgesny gaan word en aan jou binnedele getorring word. Dit verg ’n spesiale soort gemoedskrag. 

Dit is hoe jy in die gehoorsaal sit terwyl jy kyk na Goed wat wag om te gebeur. Asof die span chirurge besig is om diep binne-in jou te gaffel met al die verborge en sensitiewe dinge. Die stuk voel aan die begin soos ’n Sweedse noir-film, wat met Hendrik se terugkoms na sy ouerhuis voel asof die gewig van sement tree vir tree op die gehoor se rûe gelaai word. Dan begin die Lego-blokke van die storie deur die drie akteurs sorgvuldig en met beheersdheid uitgepak word. Dit maak jou nuuskierig. Wie is die vrou aan die buitewyke, van wat lyk na ’n voorstelling van ’n kamer, sentraal in die middel van die verhoog? Albei is verstrengel in hulle verskillende milieus en Hendrik, vertolk deur Gideon Lombard, lyk afgeransel en diep verdrietig. Hy klap sy eerste bier van vele meer wat gaan volg en die vroue beweeg stram rondom sy wêreld. 

Totdat die jonger vrou as Katinka, sy suster, en sy meisie, Elana, vertolk deur Emma Kotze, in en rondom sy spasie meer Lego-blokke bymekaarsit om die raaisel stuk by stuk te voltooi. Dis eintlik nie eens oor Hendrik nie. Dis oor sy pa, sy bloedlyn, sy DNS… Die chromosome van jou ouers wat ’n “spiraal vorm en dis hoe jy jy word”. Dis daarin waar die ‘goed wat wag om te gebeur’ is. Só hoor jy van die familie wat nes baie families struikel onder die vlek van ’n besmette bloedlyn. ’n Meesterlike teks deur die skrywer en regisseur Philip Rademeyer wat niks sommer só op ’n skinkbord bied nie. Hy wil jou intrek en intrek totdat jy verby die punt van terugkeer is. Jy leun lateraan vorentoe soos jy aangegryp word deur Antoinette Kellermann as die moeder-ma, die verdrukte ma, die besliste ma… Jy sit verskrokke in vervoering van Lombard se vertolking en voel Kotze se verskuiwings van haar karakters se intensies.

Die middelste gedeelte van die verhoog, waar ’n blou rusbank in die middel staan, is die spilpunt waarom als gebeur en die portret aan die kant ’n konstante herinnering van ’n “spookte midde van ons almal. Omring deur swart wynbottels, laat Rademeyer jou verstaan dat Hendrik, wat heeltyd binne die sirkel bly en nie een keer uittree nie, verstrengel is binne ’n “tronksel” van verslawing. Die doppies spring, die leë bottels raak meer, die Lego-blokke uiteindelik rondgesmyt na afloop van ’n slim, beheersde trant vir die ontknoping. Laasgenoemde mag ek nie vertel en enigiets verklap nie.

Dit is dan wat  jy vir die eerste keer besef wat nou hier aan die gebeur is – Rademeyer met sy spelers se uitmuntende vertolkings, is besig met opehart-chirurgie op jou – met ’n briljante teksvertaling van sy The Graveyard-stuk en effektiewe regisseurshand. In die gestroopte verhoog lê jy maar nes die karakters bar en kaal om vir ewig anders anderkant uit te kom.

Facebook
Twitter
LinkedIn