RESENSIE

Bouguenon laat elke ‘Hans’-karakter dans

Willem Bester
Hans steek die Rubicon oor
Drostdy-teater

Vir lesers van Rudie van Rensburg se trefferboek Hans steek die Rubicon oor gaan die inwoners van Huis Madeliefie geen bekendstelling nodig hê nie. Diegene wat nie danige lesers is nie het dalk met Hans van Kraaienburg en sy ouetehuisvrinne kennis gemaak deur middel van Tobie Cronje se voorlesings op die draadloos. Daar is selfs ’n rolprent op pad. Maar vir eers is Hans se avonture op die planke in ’n teksverwerking deur Francois Toerien.

Op 90 is Hans nog volop lewe, maar vanuit die buiteland besluit sy kroos – die “Verenigde Nasies” – hy moet Huis Madeliefie toe trek. Hy maak vinnig vriende onder die ander inwoners, maar trek swaar onder die drakoniese Matrone se ongenaakbare regime. Hans, ’n natuurlike leier wat nie maklik aan hom laat voorsê nie, besluit geen heining, hek of sekuriteitswag gaan hom inperk nie. Avonture volg: Daar is daggakoekies, skurke, ontkleedansers, ’n ouetehuisstaatsgreep…

Ek moet bieg toe Charlie Bouguenon sy verskyning op die verhoog gemaak het, het ek heel neerbuigend gedink: “Neef, gaan jy in jou relatiewe jeug, sonder Hollywood-kaliber gesigprostese, die karakter van ’n 90-jarige tuisbring?” Misgis ek vir my!

Let op die vorige beskrywings, want vir elke karakter het Bouguenon ’n unieke stemtoon, aksent, gesigstand en liggaamshouding.

Bouguenon gee in ’n indrukwekkende stuk eenmanteater lewe aan die hele menagerie van Huis Madeliefie en omgewing; ek het opgehou tel by tien karakters. Hy wissel in ’n handomkeer van die skeeloog Vasie en leëkop Elvis na die pruilmond Liesbet en stywelip Matrone. Let op die vorige beskrywings, want vir elke karakter het Bouguenon ’n unieke stemtoon, aksent, gesigstand en liggaamshouding. Daar was vir geen oomblik enige twyfel oor wie aan die woord is nie.

Lizz Meiring het die spel teen ’n gawe tempo gelei. Wat ontwerp betref, het die interessante verwerkings van die volkslied “Vat jou goed en trek” opgeval, met die melodiese materiaal vir dié woorde en ook van “swaar dra al aan die een kant” wat in verskeie gedaantes – van boeremusiek tot grungy –, voorgekom het.

Maar uiteindelik lê die sukses van dié verwerking vir een akteur (in plaas van ’n groter rolbesetting) steeds vierkantig op Bouguenon se bedrewendheid as raconteur. Gegee daarby die gewildheid van die boek en voorlesings, en ook dat min inkleding en rekwisiete nodig is, het dié produksie bene – sowel as reisende of feesproduksie as in teaters.

Die stuk sal nie almal se smaak val nie. Die humor is nie besonder diep nie – nie dat suksesvolle komedie hoef te wees nie. Tog spreek die oorwegende tema tot ’n kwessie wat by die dag groter word, veral in Afrikaanse geledere: Dié van kinders wat emigreer en dan Australiese, Britse en Kanadese kleinkinders grootmaak, terwyl oupa en ouma alleen in Suid-Afrika agterbly. Tolstoi het geskryf: “Alle gelukkige gesinne is eenders; elke ongelukkige gesin is uniek op sy eie manier”. In ’n groter konteks is die kwessies van emigrasie nie uniek nie, maar binne ’n Suid-Afrikaanse konteks wil dit wel voorkom of dit Afrikaanse gesinne is wat so, indien nie ongelukkig nie, afstandelik raak.

  • Hans steek die Rubicon oor se vertonings is op 14 Oktober om 20:00, 15 Oktober om 10:00 en 16 Oktober om 13:00. Ouerbegeleiding tot 14 word aanbeveel. Bespreek by Webtickets.
Facebook
Twitter
LinkedIn