RESENSIE

Vulkaan van humor

Jo-Ann Floris
Île
HMS Bloemhof-skoolsaal
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Daar staan sy en lyk of botter nie in haar mond kan smelt nie. Dan maak sy haar mond oop en die spreekwoordelike vulkaan waarvan sy die gehoor ’n bietjie later gaan vertel, begin borrel en lawa van genot uitspoeg.

Île in Mauritius is ’n idilliese vakansiebestemming, maar vir Sophie Joans is dit waar haar familiewortels lê is. Dit vat nie lank om ingetrek te word in haar verhaal wat vanjaar by die Grahamstad-kunstefees met ’n Standard Bank Gold Ovation-toekenning bekroon is nie. Die stuk bevat net genoeg middelklas-stories om die regte snare aan te raak. Dié wat dit leef, herken dit, en dié wat van buite af inkyk, skud hulle kop en dink: “Ek het altyd gewonder… nou weet ek.”

Joans hou nie terug nie. Sy grawe verby die idilliese en klouter af tot waar die eiland op die bloed en sweet van slawe-arbeid gebou is. Terselfdertyd trap sy ook nie oor die lyn waar dit ’n geskiedenisstorie word wat mense verdeel nie. Inteendeel.

Al gaan haal sy die storie doer op die eiland, is dit stewig geplant in Suid-Afrika. Joans gebruik deurentyd vlymskerp humor, maar jy moet drafstap om by te hou, anders hol sy onder jou uit met haar energie.

Haar stories vloei maklik. Deur haar ma as ’n sentrale figuur te gebruik bou sy haar eie soeke na identiteit uit (en ook wat sy nié wil  wees nie). Hoeveel van die stories waar is of nie, maak later nie meer saak nie, want teen die tyd dat die vlietende “Kan dit waar wees?”-gedagte by jou opkom, is dit reeds te laat. Jy sit soos ’n gulsige kind en wag vir haar om die volgende pak storielekkers uit te deel.

Daar is ’n eerlikheid aan Île se storielyn (wat glad nie voorspelbaar is nie) en Joans se spel. Sy begin die storie by die aardkragte wat die eiland gevorm het, en voor jy weet, het jy ’n geskiedenis- én aardrykskundeles waarin jy baie oor geologie geleer. En nes jy dink jy het nou mooi uitgepluis waarheen die storie lei, dop sy dit op sy kop, soos die verhaal oor die slawe-arbeid waarop die eiland gebou is.

Diep, diep onder die grond borrel en kook die lawa, vertel sy, en ’n mens dink sy praat oor die inwoners wat dalk nog nie kon vergewe nie. Maar die storie loop ’n heel ander pad – een waarin sy die beeldspraak gebruik om te verduidelik hoe haar eie pad van soek en vind, stoei, baklei, uitpluis en aanvaar loop. En elke keer, soos haar storie oor om tot by die nek van die vulkaan te gaan, neem die verhale jou telkens tot op daai randjie – en dan los Joans jou om verder te gaan in jou eie kop. Elke keer red haar humor die stuk van swartgalligheid. Dit is egter nie die soort humor wat lig maak van ’n saak nie, maar die soort wat jou help om die moeilike goed te verteer. 

Île is ’n ervaring wat ’n mens onmiddellik in jou stamboom wil laat klouter.

  • Île is weer op 14 Oktober om 20:30 en 16 Oktober om 15:00 in die HMS Bloemhof-skoolsaal op die planke. Bespreek by Webtickets.
1400x300 Starlet BannerArtboard 1
Facebook
Twitter
LinkedIn