RESENSIE

Holy Kraal!

deur Chase Rhys
Produksie: Kraal
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Jason Jacobs skep ’n sacred space. Stilte en stilheid permeate die rymte. Daa’s niks musiek soes jy innie teater loepie. Jacobs se Kraal is meer as net ‘n eenmanvertoning. Is ’n droom, ’n ritueel, ’n seremonie.

Jacobs is kwesbaar en eerlik. Hy deel met ôs sy gesin se sikliese stryd met verslawing aan alkohol. Hy praat oorie reimagining van ’n nuwe Kleurling-identiteit en oo ancestreal invloed.

Jason se oë glinster terwyl hy perform. It voel amper asof hy channel wanne hy verskeie mense in sy geslag speel. Hy is ’n delicate kunstenaar, sy stem is sag en sy bewegings, veral die dansery tewyl hy praat, is doelbewus.

Die stel is eenvoudig, spaarsamig, daa’s net 12 klein rotse innie middel vannie vehoog gestapel. It set ons stewig in Jason se komvandaan, Kharkams in die Namakwa-distrik.
Julia Rosina Theron se kostume issie wow nie, is neutrale shades van grys en wit. Maa elke stuk het meaning vi Jason. Hy dra grys broeke. Hy vertel na’rie show dat sy ouma die wit bandjies daarop vasgewêkit, ommie kombers wat hy as ’n prop innie show gebryk, te komplimentee. Is ‘n deeply persoonlike wêk en sy familie se presence wôd gevoel.

Die teks is part poësie, part bio, part prayer. Jason het ’n kruisboog waamee hy voo en na die vertoning bid. Maak sin, want toe ek ytie teater loep en ’n vriendin vra my hoe wassie show, sê ek: “Ek voel ek’t nou ytie kêk gekô.”

As ’n kind van addicts self, het ek hierdie wêk ongelooflik gevind. Soes Jason, het ek verslawing geërf. Ennie gewig om ’n generasiesiklus te briek kan ’n swaar las wees. Om te sien hoe ons geliefdes deur verslawing vernietig word, kan jou hulpeloos laat voel. Ôs doen wat ôs kan virrie mense vi wie ôs het. Jason gebryk sy gift: sy storytelling, ommie net homself as ’n siklusbreker te aanmoedig en verstêk nie, hy doen it oek vi ôs ​​siklusbrekers innie gehoor.

Facebook
Twitter
LinkedIn