RESENSIE

‘Kraal’ krap nie genoeg onder die vel nie

Jo-Ann Floris
Kraal
Japie Krige-saal
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Daar is ’n uitdrukking wat lui: “Die ligte is aan, maar daar is niemand by die huis nie.” Kraal is presies dit. En wat ’n gulde geleentheid is nie hier vermors nie.

Die tema is ’n pynlike, emosionele een, veral as ’n mens eerstehands die verwoesting beleef het wat die dopstelsel oor geslagte heen gesaai het. 

Dit was ’n vernietigende stelsel op plase waar werkers dikwels met drank betaal is pleks van geld. Dit het ’n bose kringloop van afhanklikheid geskep, maar ook een van maatskaplike euwels. En die kinders se kinders se kinders betaal steeds die prys daarvoor, met Suid-Afrika – en veral die Boland – wat sit met die hoogste syfers van kinders wat met fetale alhohol-sindroom gebore word.

Hierdie kinders het leerprobleme en hulle fisieke ontwikkeling word geraak – dis ’n agterstand wat hulle lewe in ’n klein, vernietigende web vasdraai.

En dis hier waar Kraal faal om die impak van die stelsel vas te vang. 

Daar ’n baie amperse konneksie met die gehoor, maar dit bly net-net buite bereik. En dis ’n jammerte, want hierdie was ’n geleentheid om vir mense te laat klim in die vel van ’n groep mense wat net afgemaak kan word as dronklappe, bywoners, die weggooimense.

Die stuk moes ’n diep persoonlike aar raakgeboor het, as ’n mens die beskrywing sou glo dat dit semi-outobiografies is. Die akteur sukkel om oortuigend te wees wat betref die vloek van die dopstelsel oor die geslagte heen.

Meestal maak dinge nie sin nie, soos die (heel bekwame) kitaarspeler op die verhoog. ’n Mens sou verwag hy sou deurlopend die begeleiding doen, maar behalwe vir twee aangelaste liedjies kom die res van die (baie goeie) musiek deur die klankstelsel.

Ek wens die skrywer het baie dieper gedelf; hy het skaars die oppervlak geskraap. 

Ek leen by ’n voormalige kollega die volgende beskrywing: “Hierdie is soos ’n koek wat net te vinnig uit die oond gehaal is. As dit gelos is om gaar te bak, sou dit ’n heel ander ervaring gewees het.”

’n Mens verlaat die saal met ’n honger wat nie gestil is nie.

  • 12 Oktober om 15:00 in die Japie Krige-saal, Paul Roos-gimnasium. Die produksie het ’n ouderdomsperk van 13. Bespreek by Webtickets.
1400x300 Starlet BannerArtboard 1
Facebook
Twitter
LinkedIn