RESENSIE

Tieners se beste op die fees

Jan-Jan Joubert
mAaNmAaTs
Bloemhof-skoolsaal
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Hierdie stuk van die Hoërskool Parel Vallei op Somerset-Wes is by die ATKV-tienertoneelkompetisie bekroon en is ongetwyfeld een van die heel beste produksies op die fees. Vergeet dat dit ’n skoolproduksie is. Dis in elk geval puik. Eintlik behoort dit ’n langer speelvak te hê, en almal wat lief is vir verhoogwerk (ook professionele mense in die bedryf) sal daarby baat om dié produksie te beleef.

Dit is die donkerste, mees understated grootwordddrama (die ATKV se vertaling vir coming of age drama) wat ek al in Afrikaans gesien het. Maar soos alle briljante donker werk is dit op die oog af lig. In’t kort handel dit oor die vriendskap tussen twee skoolseuns wat wreed (maar understated) kortgeknip word, en dan op ’n ander vlak, sou mens kon sê, hervat word.

Die teks deur Darryl Spijkers en Lindie Strydom betrek die teater in sy volkomenheid – dans, groepspel, rolspel, samespraak, monoloë, spreekkoor – maar op natuurlik vloeiende, understated wyse.

Dit is ’n enorme rolverdeling van dertig, en niemand speel ’n varing of ’n boom in die agtergrond nie; elke rol is substantief en moontlik ’n individuele praatrol (dis moeilik om presies te sê). Die twee hoofakteurs, Paul Strydom en Aden Gardiner, is puik. Omdat hulle rolle die omvangrykste is, domineer hulle, maar dis duidelik heelwat van die byspelers sou eweseer in die hoofrolle kon staan.

Die beligting deur Gabrielle Lopes, die choreografie deur Casey Holmes en Angelique Jonker, en die stelontwerp deur Zanodean Cassim verdien om vermeld te word. Al drie tegniese aspekte sal my lank bybly, met die allergrootste genoegdoening, en die energie van die ensemble wat deurgaans bly bruis het. Watter sterk regie!

Hierdie is ’n verhaal oor kinders, deur kinders, maar nie noodwendig vir kinders nie.

Die stuk is om hope redes ’n hoogtepunt. Een is dat dit outentiek ouderdomsgepas (age appropriate) is. Hierdie is ’n verhaal oor kinders, deur kinders, maar nie noodwendig vir kinders nie. Hierdie kinders praat en dink soos tieners praat en dink. Dit kon dalk vir hulle ouers onthutsend wees. Hoogste lof aan wie ook al by Parel Vallei ingestem het tot hierdie produksie. Somerset-Wes is duidelik meer oopkop as wat ’n mens dalk sou dink.

Hieroor wil ek ’n opmerking maak wat seker soos iets uit die 1990’s klink. Dit is die mees ongedwonge etnies diverse rolverdeling wat ek al gesien het. Dis nie ’n issue nie, want dit kom nie daarop aan nie. Dis net ’n feit. En dit het my hart baie, baie gelukkig gemaak op ’n onverwoordbare vlak. Ek was nie bruisend opgewonde oor die opdrag om hierdie produksie te resenseer nie, maar nou is ek so dankbaar as kan kom. Hierdie is soos teater moet wees: energiek, vermaaklik, rigtend, verrykend.

  • Maanmaats se laaste vertoning is op 11 Oktober om 18:00 by die Bloemhof Skoolsaal. Bespreek by Webtickets.
Facebook
Twitter
LinkedIn