PROFIEL

Mercy vra vir genade vir Boesak

deur Herschelle Benjamin
Produksie: Boesak
Foto’s: Verskaf

Dit was vir Mercy Kannemeyer oorweldigend om te begin skryf aan Boesak omdat so baie mense dink hulle ken dr. Allan Boesak. Maar nou vra sy vir almal in die verbyloop: Ken ons regtig die man agter die naam? HERSCHELLE BENJAMIN het met Kannemeyer gesels.

 

“Daar is tog net iets aan Melville!” sê Mercy Kannemeyer na ’n moeë groetsoen met die intrapslag by Xia Xia, ’n bekende watergat in 7de Laan van Melville, noord van Johannesburg. Sy kom pas van ’n repetisie van haar nuutste produksie, Boesak. Dié einste teaterproduksie wat vanjaar by die Woordfees debuteer met Marlo Minnaar in die titelrol, was maar net ’n weggooi-idee van Minnaar aan haar iewers by ’n fees of laatnagkuier. Sy kan nie presies onthou waar hy dit aan haar genoem het nie, maar wat haar bygebly het, was dat “die talentvolle Marlo Minnaar iets saam met mý wou doen”. Sy giggel ietwat nadat sy die herinnering oorvertel, maar dan bring die realiteit haar terug na ’n beklemmende stemtoon.

“Ek was eers gevly, maar toe ek besef dat hy genoem het dat hy eendag Allan Boesak wil speel, het ek gedink daar’s geen manier wat ek ’n toneelstuk oor dr. Allan Boesak gaan doen nie,” vertel sy driftig met swaaiende hande. Tog hier is sy nou – besig met repetisies vir die stuk oor die komplekse, amper mitiese Boesak wie se lewensverhaal nie sonder omstredenheid is nie. Waar begin ’n mens ? ’n Mens begin by die begin. Die Alfa. Die Genesis. Die A. 

Kannemeyer, wat bedags werk as televisieproduksiebestuurder vir die kykNET- aktuele program In gesprek, het alles wat sy voor dr. Boesak kon kry, begin lees en kyk. Sy het as’t ware haarself as joernalis ingespan deur sy boeke, navorsingsartikels, tessisse, poniekoerant-artikels en YouTube-video’s van sy preke te deursoek om te probeer sin maak van die anti-apartheidsaktivis en teoloog dr. Allan Boesak.

“So baie mense dink hulle ken hom, maar doen hulle regtig? Ken hulle hom by die hart of by die opskrifte?” vra sy my met haar kenmerkende ronde bril wat vir eers op die tafel lê. Ek vul die lang stilte wat hang in die lug ná haar vrae en vertel liewers vir haar dat my tuisdorp, Piketberg, se gemeenskapsaal genoem is na hom – die Allan Boesak-gemeenskapsaal. Sy knik instemmend soos ek vertel, want natuurlik weet sy van Boesak se baanbrekerswerk op talle plattelandse dorpe in Suid-Afrika, maar ook sy werk in die Nederlandse Laaglande waar hy vir sy bevrydingsteologie, swart teologie en as vurige spreker bekendheid verwerf het. Ek bieg dat ek glad nie van sy studiejare in Kampen weet nie. 

Met Kannemeyer is daar nooit die instinktiewe beoordeling nie, maar liefs die uitnodiging om ’n gesprek uit te brei. Is dit haar en Minnaar se doel met die stuk? Sy dink nie so nie, maar benadruk dat dit belangrik is om agting aan mense se komvandaan te gee om hulle hede te verstaan. Haar teks is ’n samestelling van Boesak se skrywes, toesprake en denke. Groot dele daarvan is verwerk, bygeskryf en weggelaat om by ’n sterk narratief te hou. Dis met nuanse verweef om ons anders na vandag se leiers te laat kyk. 

Tog kan ’n mens nie die omstredenheid miskyk nie. “Dis daar, maar ek en Marlo probeer nie om ’n sensasionele stuk op die verhoog te sit nie,” sê sy soos sy haar bril nadergryp en na die tyd op haar selfoon kyk. Sy het net ’n halfuur vandag, want tussendeur repetisies, werk sy steeds elke dag en skryf steeds haar rubrieke. 

Ek probeer om iets oor Minnaar se vertolking as Boesak uit te vis, maar sy móét nou haar Uberrit bestel. Ek vra ’n laaste vraag voordat sy verder in Randburg gaan rondhol: “Wat wil jy en Marlo hê moet gehore uit die stuk neem?” Sy neem eers ’n minuut voordat sy antwoord: “Ek wil hê gehore moet voel presies wat hulle voel, en nie na die teater toe kom op soek na antwoorde nie. Ja, ek besef teater kan ’n riglyn wees vir hoe ons na die wêreld moet kyk, maar met hierdie toneelstuk wil ek hê gehore moet vir hulleself besluit.”

 

  • Boesak is te sien 12 Oktober om 14:00, 13 Oktober om 13:30 en 15 Oktober om 17:00 by die kykNET Hoërskool Stellenbosch. Die produksie het ’n ouderdomsbeperking van 13 jaar. Bespreek by Quicket. 

 

Facebook
Twitter
LinkedIn