RESENSIE

'Mirakel' steeds ’n mirakel

deur Willem Bester
Produksie: Mirakel
Foto’s: Pierre Rommelaere

Hoewel dit altyd gaaf is om by feeste deur debuutwerke en produksies met die nuutste tegnologie te draf, is daar steeds ’n plek vir ouskoolteater, met regisseurs wat meesters in die medium is, akteurs wat die verhoogkuns tot in hulle beendere ken, en driedimensionele inkleding sonder foefies. Marthinus Basson se weergawe van Reza de Wet se tragikomedie Mirakel is só ’n lekkerny. En ná al die beproewinge van die afgelope paar jaar, veral in die teatergemeenskap, wie kan dan nou nie aanklank vind by die verhaal van ’n rondreisende toneelgeselskap wat in die nadraai van die Groot Depressie van hand tot mond leef nie?

Dante du Pré (Dawid Minnaar) en sy geselskap, Salomé (Bettie Kemp), Antoine (Eben Genis), Abel (Edwin van der Walt) en Lenie (Carla Smith), arriveer op ’n klein dorpie iewers op die platteland. Hulle is platsak en uitgeput. Die beplande opvoering van die aand moet ’n ordentlike gehoor lok of hulle gaan weer honger ly. Lenie en Abel verwag ’n baba, en dit blyk dat die swangerskap en jare van ontbering ’n tol geëis het. Wanneer iemand uit die gemeenskap, Anna (Rolanda Marais), opdaag en ’n feesmaal vir die spelers optower, blyk dit gou dat daar vir Abel ’n soort tuiskoms is wat hy nie verwelkom nie. En dan tref die tragedie.

Mirakel is die middelste stuk in De Wet se trilogie Trits, wat aan haar in 1993 die Hertzog-prys vir Drama besorg het. Enigiemand wat Danie Botha se uitstekende Voetligte & Applous! Die beginjare van Afrikaanse beroepstoneel gelees het, sal herken dat die karakter van Dante deur die legendariese André Huguenet geïnspireer is. Maar Mirakel is nie halfgebakte geskiedskrywing nie: Die magies-realistiese inslag is immergroen De Wet, en die komedie en tragedie lê dig teen mekaar.

Waar daar seker ’n versoeking kon wees om die een of ander hervertolking te doen, het Basson hom by eerste beginsels bepaal… en hoe wonderlik werk dit nie! Die volgrootte stel, deur Gaerin Hauptfleisch en geskilder deur Yolandi van Jaarsveld, verleen ’n heerlike reliëf aan die spelruimte en word subtiel belig deur Nicolaas de Jongh. Basson se rekwisiete is die verhoog vol, maar à la Chekov se Geweer het alles ’n doel. Dit is regte kos wat die akteurs eet, en toe daar regte vlamme op die verhoog is, het die gehoor hoorbaar na hulle asems gesnak.

Dit alles is net een kant van die munt. Die spel – individueel en ensemble – is eenvoudig uitmuntend. Wanneer Minnaar met uitgestrekte arms deklameer, is dit met die gravitas van jare lange ervaring, wat hy dan ook met humor ondermyn. Kemp is op haar stukke as Salomé en haar spel roep die eindwoorde in Jan Rabie se La promenade en chien op: “ontploffende oomblik”. (Dis ’n klompliment, indien iemand hoegenaamd twyfel.) Hierteenoor vertolk Marais die sinistere Anna met panache en goeie sin vir die teatrale.

Hoewel Lenie dalk ’n bietjie van ’n afvlerk-eendjie is, speel Smith haar met intensiteit, maar ook humor, byvoorbeeld, wanneer Lenie op aanwysing van Du Pré, leepoog in iemand se rigting tuur. Soos altyd, beïndruk Van der Walt met sy verstommende intensiteit en emosionele reikwydte. En Genis… sy kamp Antoine was vir sy onderbeklemtoonde humor ’n hoogtepunt, soos wanneer hy bloot met ’n groot stuk melktert skelm, halfpad mond toe betrap word.

Mirakel reik na ’n eenvoudiger tyd in teater, toe die mag van woord en gebaar – en blote vernuf – die belangrikste ruileenhede tussen verhoog en gehoor was. Wanneer mense dalk eerder voor die TV sal wortelskiet as om geld vir die teater uit te haal, wil ’n mens glo dat skandalige begrotings en meer tegnologie – byvoorbeeld, projeksies en klankeffekte wat ’n Christopher Nolan-film sal beskaam – nie altyd die oplossing is om sale vol te kry nie. Nee, wat: Al wat nodig is, is ’n ervare teaterbende wat kan speel, spoeg, plak en herwin… en ’n storie – bowenal, hulle storie – ken.

 

  • Mirakel
    HMS Bloemhof-sentrum
    12 Oktober 19:30 | 13 Oktober 09:00
    Kaartjies is beskikbaar by Quicket
Facebook
Twitter
LinkedIn