RESENSIE

‘ ’n Akkerboom’ gaan sit op die gesigte van hulle wat trauma ken

Jan-Jan Joubert
‘n Akkerboom
kykNET Hoërskool Stellenbosch
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Die gehoor word begroet deur ineengestrengelde stoele. Is dit ’n hipnose-vertoning dié? Maar dis mos vet pret? Met De Klerk Oelofse, daardie grappige gasheer van Kyk wie praat?

Toe nou nie, want die skyn bedrieg.

Hierdie is gewoon ‘n kragtoer  – ’n reis van trauma na aanvaarding, met die vervlegte universaliteit van lyding. Onder die sterk en trefseker regisseurshand van Nico Scheepers sien die gehoor ’n De Klerk Oelofse wat teatergangers ken, een ver verwyder van die prentjie wat TV-kykers leer ken het. Die ware akteur.

Daardie verstrengelde stoele word weldra uiteengeknoop, staangemaak en omgegooi, soos trauma doen. Want saam met Oelofse op die verhoog is ’n gasspeler, in hierdie geval die minlike Martelize Kolver. Vir elke vertoning is daar ‘n ander gasspeler, iemand wat nie die die teks nie en die rol met die rol met teks in hand vertolk. Gelukkig sou Kolver ’n goeie pioniersvrou uitmaak in ’n vergange tyd van osse, skowwe, lunsrieme en leeus. Ook met hierdie stryd – bid jou dit aan, liewe leser, om totaal onvoorbereid voor ’n groot, kritiese Woordfees-gehoor op Stellenbosch te speel. En sy doen dit so knap en gevoelvol!

Dan gebeur die onverwagse – en kuns word die lewe, en die lewe word kuns, die gehoor word momenteel die teks, want die teks word die gehoor…

Oelofse maak die rol sy eie. Die flambojante, oorgemaklike en opgesmukte grappigheid van die hipnotiseur, wie se ongeoefende pittigheid oor elke situasie en persoon wat op enige denkbare manier op sy verhoog kan verskyn, verdoesel nouliks die afgeloopte aard van die showman-persona, skitterblink glimlag ten spyt. “Hoe slinks is hy met sy cufflinks,” wil jy amper soos die eertydse Battery 9 neurie.

Maar kyk nou net hoe die masker glip wanneer die ondenkbare gebeur. Hierdie hipnotiseur is erg ontwrig deur onlangse gebeure, en hy oortree sy eie voorskrif dat emosioneel onstabiele mense nie op ’n hipnotiseursverhoog mag wees nie. Daardie voorskrif bestaan om ’n rede; die oorteding daarvan kan tog rampspoedig wees.

Die hipnotiseur het naamlik drie maande tevore ’n twaalfjarige dogtertjie doodgery, en haar treurende pa (Kolver) beland op die verhoog van die hipnotiseur. Dan gebeur die onverwagse – en kuns word die lewe, en die lewe word kuns, die gehoor word momenteel die teks, want die teks word die gehoor, die hipnotiseur en die vader, vervleg in die universaliteit van trauma, met werklikheid en suggestie wat elk parte speel.

Die paragraaf hierbo mag dalk esoteries klink vir diegene wat nog nie trauma beleef het nie, maar as jy ’n Akkerboom gaan kyk, sal jy sien wat ek bedoel. Met die gehoor se uiteengaan ná die vertoning was die verskillende belewings op die gesigte afgeëts. Jonger gehoorlede het ’n impak beleef, ja. Hulle kon Kolver en Oelofse se puik spel, die fyn regie, die teks en die teskinkleding geniet en waardeer. Hulle het hulle pond vleis gekry.

Maar dit was die afetsing van herkenning op die gesigte van soveel ouer teatergangers wat my lank, dalk altyd, sal bybly – hulle wat veel bewaar van die stam se herinneringe en van sy swaar. Hulle wat trauma beleef en oorleef het, wat weet dit is so seker deel van die lewe soos die nag wat volg op die dag. Hulle het die opheffing van ongeloof ervaar.

Hierdie puik vertaalde teks veroorsaak dit. Dit veroorsaak teater.

 

  • 14 Oktober om 20:00 en  16 Oktober 20:00 by Hoërskool Stellenbosch. Bespreek by Webtickets
Facebook
Twitter
LinkedIn