VOORSKOU

Teater van die onverwagse

Soos dit teater van die onverwagse betaam, gaan die eksperimentele debuutproduksie ’n Akkerboom, waarin een akteur heeltemal onvoorbereid op die verhoog klim, beslis vanjaar feesgangers én die hoofakteur, De Klerk Oelofse, verras. Jan-Jan Joubert het een van die repetisies bygewoon.

Foto’s: Nardus Engelbrecht

Verbeel jou jy is ’n bekende akteur wat in ’n toneelstuk voor ’n saal vol mense gaan optree. Jy ken die teks, maar het geen idee watter akteur saam met jou op die verhoog gaan verskyn nie. Al wat jy weet, is dat die ander akteur totaal onvoorbereid is, nog nooit die teks gelees het nie en ook nie die verloop van die toneelstuk ken nie.

Dit is teater van die onverwagse, op ’n manier wat ons nie eintlik in Afrikaans ken nie. Die konsep is opwindend en onvoorspelbaar en sal vir baie teatergangers vars wees. Die titel is ’n Akkerboom, en dit is die rede waarom die akteur De Klerk Oelofse en die regisseur, Nico Scheepers, op die Sondagmiddag ’n week voor die aanvang van die Woordfees in die gemeentesaal van die Metodistekerk in Claremont repeteer.

Die konsep is werklik prikkelend. Oelofse, wat teatergangers jare al reken as veelkantige, intelligente en deernisvolle akteur, is deesdae onder TV-kykers bekend as die enigsins flambojante aanbieder van Kyk Wie Praat?, en diegene wie se TV-belangstellings en -voorkeure ’n wyer reikwydte as die kompetisieprogramgenre het, ken hom ook vir sy genuanseerde vertolking van die karakter Lourens in Die boekklub.

Maar hoe repeteer jy vir ’n stuk as jy glad nie weet wie jou byspeler gaan wees nie?

Dit is albei dié aspekte van Oelofse se akteurskap wat Scheepers laat besluit het om hom te nader om hierdie uitdagende en hoogs onvoorspelbare rol te takel. “Ek wou sowel die TV-aanbiederspersona as die gerekende akteur inspan,” verduidelik Scheepers, wat al jare wag om die Britse dramaturg Tim Crouch se stuk An Oak Tree, wat hy self in Afrikaans vertaal het, op die planke te bring. Die vertelling word soos volg opgesom: “ ’n Man verloor sy dogter in ’n motorongeluk, en niks is meer soos dit was nie. Dit is asof hy in ’n toneelstuk is, maar nie die woorde of die bewegings ken nie. Die man wat die motor bestuur het, is ’n hipnotiseur wat sedert die ongeluk sy krag van suggestie verloor het. ’n Akkerboom is ’n buitengewone produksie; met elke vertoning betree ’n ander akteur of aktrise saam met die hipnotiseur die verhoog om die pa te vertolk, sonder dat hulle ’n woord van die teks gelees het. ’n Asemrowende stuk oor vertolking, verlies, die krag van woorde en suggestie.”

Oelofse speel die rol van die hipnotiseur, met die onvoorbereide akteur wat die rol vertolk van die man wat sy dogter in die motorongeluk verloor het. Om in hierdie stadium meer van die verhaal te ontsluier is sekerlik onwenslik – gaan kyk eerder die stuk.

Uiteraard bied so ’n rol ’n geleentheid om jou akteursvernuf- en talent ten volle te ontplooi, en dis tydens en ná die repetisie duidelik Oelofse gryp die geleentheid met ywer en energie aan. Maar hoe repeteer ’n mens vir ’n stuk as jy glad nie weet wie jou byspeler gaan wees nie? 

Die antwoord, so sien ’n mens, is dat opkomende akteurs die byspelersrol in repetisies vervul. Op hierdie Sondagmiddag in die kerksaal in Claremont is die proefkonyn Devonecia Swartz, wat as student onder meer die bekronings ingeryg het vir haar rol as Jakkals in die produksie Jakkals en Wolf onbeperk.

Al is dit net ’n repetisie, pols die energie uit die sterk, fyn vertaalde teks wat sowel die akteurs as die krag van taal tot die boeiende uiterste span. Dis verstommend hoe woord en voorstelling (veronderstelling, suggestie, noem dit wat jy wil) algaande met teatertegniek vervloei om vanuit die aanvanklike afstandelikheid die spelers, narratief én die gehoor tot hoogspanning in te katrol.

Dit gaan hier om die belewing van trauma. Almal wat al ware, langdurige, selfveranderende trauma en angs beleef het, sal weet dit is menslik onmoontlik om te verwoord, en daarom neem ek my toevlug tot analogie of vergelyking: Diep trauma is soos daardie kragtige golwe aan die KwaZulu-Natalse kus wat jou onderstebo slaan sodat jy nie weet waar onder of bo is nie, en jou tol en gooi sodat water en sand inkom en uitkom op plekke waar jy nie wou weet jy plekke het nie, en jy besef jy gaan moontlik hier vergaan in die lewenstorm wat so woedend om jou slaan; jy soek na lug, maar jou sin vir tyd en rigting is weg – en die menigte om jou weet dit nie.

Diep trauma is soos daardie kragtige golwe aan die KwaZulu-Natalse kus wat jou onderstebo slaan sodat jy nie weet waar is onder of bo nie.

’n Akkerboom is kuns wat daardie trauma herskep, maar sonder om dit onder woorde te probeer bring. Dit is die krag van teater wat tog maar sterker is as die blote geskrewe woord vir werklikheidsherskepping: die intense, fyn bedrade saamgevoegde spanning van en tussen regisseur, speler, stem, stilte, rekwisiete, werklikheid, verbeelding, suggestie, klank, ruimte, afsondering, gedeelde werklikheid en ’n volle belewingswerklikheid.

Vir diegene wat deurtastende trauma gespaar is, bied dit ’n sonderlinge, kosbare geleentheid om iets mee te maak van die wens om die oorsaak van die trauma te verwyder, die onvermoë om dit te doen en dan die besef dat daar net twee alternatiewe is: tou opgooi of een voet voor die ander sit, een tree en een dag op ’n slag.

Scheepers en Oelofse sê in elke repetisie laat die gelade teks die byspelers anders reageer, maar niemand bly onaangeraak nie. Dit is waarom dié resensent minstens twee vertonings van ’n Akkerboom gaan kyk omdat elkeen dinamies van die ander verskil. Dit is teater van die onverwagse en nie iets wat jy kan misloop nie.

  • ’n Akkerboom word op 12 Oktober om 16:30, 13 Oktober om 13:00 en 16:30, 14 Oktober om 20:00 en 16 Oktober om 20:00 by die kykNET Hoërskool Stellenbosch opgevoer. Bespreek by Webtickets.
Facebook
Twitter
LinkedIn