RESENSIE

Cheers op wonde wat aanhou sweer

deur Jo-Ann Floris
Produksie: Op Ons
Foto’s: Verskaf

Cheers op wonde wat aanhou sweer onder die lap wat ons omdraai.

“Laat die mense tog net nie sien hoe gebroke ons is nie.”

“Cowboys don’t cry.”

“Afrika is nie vir sissies nie.”

“Deal daarmee.”

“Sy het wat? Depressie? Dis mos nie ’n siekte nie, sy moet ophou aansit.”

Dis bekende refreine wat jou kan knak as jy die woorde insluk en herkou, herkou.

Dan kom die dag dat daai woorde opstoot en woede raak en slaat jy alles om jou plat – jouself inkluis.

Dan is dit te laat.

Op ons vier baie dinge. Die twee op die balkon cheers op vriendskap, loopbaan, akteur-wees, gebroke harte.

Net so onder die uitbundige gelag kom daar vinnig ’n oomblik van ongemaklike stilte. Dan weer die oordadige lag. Maar dis te laat. Daai stilte was net genoeg om te sien als is nie wel nie.

’n Mens kan dan nie meer wegkyk nie.

Op ons vier baie dinge ja, maar dit belig ook die onsekerheid en weerloosheid wat ons skadu is.

Oujaarsaand, die draaipunt van die jaar. Twee boesemvriende skink ’n glasie. Daar is ’n vlietende verwysing na wat sou wees “as sy nie daai aand haar kop na hom gedraai het nie”.

Dan beweeg die gesprek aan.

Hy vertroos, want sy is haar pos as teaterbestuurder kwyt, en wat die liefde van haar lewe moes wees, het haar gelos.

Maar dis okay, alles is okay, herhaal sy vir haarself. Hy beaam.

Daar is die stem wat aanhou deurbreek, wat hul gevoelens fasiliteer, maar hulle is so vasgevang in hul wêreld van insluk en herkou, dit gaan by hulle verby.

Tyd vir refleksie, ja, maar as iets te lank gemarineer het in drank stoot dit galbitter op in jou mond.

Dan kom dinge los wat nooit daar moes gewees het nie.

Dis ’n slim teks, wat jou net lank genoeg saamsleep in die salige onkunde dat jy die karakters uitgepluis het. Net toe jy begin agteroor sit en dink dis net ’n storie oor dronkverdriet, draai die hele wêreld onderstebo en jy moet laat los van jou vooropgestelde idees en toelaat dat die stroom jou vat.

Soos ’n springgety, waar jou enigste kans op oorlewing is dat jy nie terugbaklei teen die krag van die water nie.

As sy maar vroeër gepraat het, het daai noodlottige aand nooit gebeur nie.

Pleks sy maar lankal die lap van die oop wond waar haar hart sit, afgehaal het.

Pleks sy geweet het almal het ’n stukkie stukkend in hulle.

  • Op Ons
    11 Oktober  20:30 | 12 Oktober 17:30
    HS Lückhoff
    Kaartjie by Quicket of by die deur.
Facebook
Twitter
LinkedIn