RESENSIE

Puik Prinsloo boor aar raak in ‘Spertyd’

Jo-Ann Floris
Spertyd
kykNET Hoërskool Stellenbosch

Partykeer begin ’n storie by sy einde. In Spertyd se geval baie na aan die einde van die bejaarde vrou (Sandra Prinsloo) wat ná haar man se dood in ’n aftreeoord gaan bly. Dit is ’n verwerking van die boek deur Elsa Joubert. 

Sy is nie een van die oues wat deur haar kinders weggegooi word nie. Sy is baie gelukkig, want hulle en hul families sorg dat sy besoek en na gekyk word. Die vriendinne kan nog kom kuier, maar dit raak moeiliker, want die erosie van die ouderdom is so konstant soos die gety.

’n Mens moenie ligtelik met die term meesterlik omgaan nie, maar daar is ’n rede waarom Prinsloo al soveel dekades oorleef in die bedryf. Haar vertolking van die karakter, in al haar nuanses, is eenvoudig puik. Niemand uit daai saal wegloop sonder dat hulle hart diep ontroer is nie. Selfs al is jy nie self ’n bejaarde nie, vind jy aanklank. Soos ’n liggaam wat broser en brosser raak, angstigheid, verlies – of net die wete dat jy eendag waarskynlik self in daai skoene sal staan.

Ouderdom. Gevrees, geminag, gevier. Dit kan enige kant toe gaan. Haar kinders wil dit vier, en maak groot planne vir haar negentigste verjaardag. Sy soek iets klein, “net familie”. Haar dogter wat die reëlings tref, dink anders, en sy weet eintlik sy het die stryd verloor. Maar die belangrikste is, sy het haar gesin wat haar toevou.

Daar is ’n wonderlike deel in die stuk waar sy by die partytjie na die vier geslagte kyk wat daar is, en verwonderd dink dat uit haar se oorle’ man, Klaas, se bloedlyn al hierdie mense geskape is. Onwillekeurig dink sy aan die noodlot, hoe hulle mekaar dalk met minute mis kon loop en nooit ontmoet het nie en haar verwondering met die lewe groei. Sy sê: “Ek kyk in die oë van die tweejarige kleinkind en sien Klaas in sy oë. Ons het dit geskep, ons het regtig.”

Prinsloo draf deur die verskillende karakters, en deur hulle vertel sy verder die storie van ouderdom, maar altyd met ’n bietjie lag by. Soos die Engelsman wat haar ’n stywe drukkie kom gee om te groet voor hy vertrek om by sy dogter in Skotland te gaan kuier. “Hy omhels my, en gee sulke probeer-Europese soentjies op elke wang. En dan druk hy my nog stywer vas. Ek moet sê, ek is lanklaas so vasgedruk, al is dit deur ’n sieklike Engelsman nogal,” lag sy vir haarself.

Sy spot verder. Sy wik en weeg om hom vir oulaas te gaan groet in sy kamer, maar keer haarself. “Ek wil tog nie hê hy moet dink hy kom na iets toe te terug nie, netnou kry hy die verkeerde idee!” En dan kom die hartseer, want hy keer nooit terug nie. Hy het te siek geraak en is daar in ’n ouetehuis opgeneem. “Ja,” mymer sy, “ek wens hulle verkoop vinnig daai woonstel, want dis nie lekker om elke keer verby ’n leë woonstel te loop nie.”

Die dood kom op enige ouderdom, maar raak ’n groter werklikheid as ’n mens oud is. Namate jy vriende, geliefdes en kennnisse om jou verloor, kom daai waarheid al hoe nader. Partykeer gaan hulle hospital toe en kom net nooit weer terug nie. Ander weet jy nie eens het gesterf nie. Soos een hardhorende tannie dit eendag uitbasuin het: “Die hysbakke is so groot want hulle moet mos doodskiste hierin laai.”

’n Mens moenie ligtelik met die term meesterlik omgaan nie, maar daar is ’n rede waarom Prinsloo al soveel dekades oorleef in die bedryf.

Prinsloo vat die gehoor met deernis deur al hierdie stadiums – van frustrasie met ’n liggaam wat nie altyd meer saamwerk nie tot die gebare van menslikheid, tot vriendskappe wat deur die jare gegroei het. En die spertyd van die lewe wat nader kruip. Daar is oomblikke van onbeheerste, onverklaarbare angstigheid, maar bittermin van selfbejammering – selfs die loopapparaat wat die dokter voorstel omdat sy so maklik haar balans verloor, kry ’n naam ná die paar oomblikke van verset.

’n Mens wonder nie waarom Prinsloo ’n Fiësta-toekenning as beste aktrise vir die rol ontvang het nie. Ná die vertoning loop mense uit en trane afvee, sommige skaam-skaam, ander openlik. Hier is ’n aar raakgeboor. Ouderdom loop langs ons, en dit haal almal in, want sy treë raak langer en ons s’n korter.

  • Die laaste vertonings van Spertyd is op Sondag 16 Oktober om 13:30 en weer om 17:00 in die kykNET Hoërskool Stellenbosch-skoolsaal. Geen ouderdomsbeperking. Bespreek kaartjies by Webtickets of koop by die deur. 
Facebook
Twitter
LinkedIn