RESENSIE

Stiltetyd skreeu om hulp

deur Willem Bester
Produksie: Stiltetyd
Foto’s: Verskaf

In Stiltetyd – met teks deur Marita van der Vyver, verwerk uit haar gelyknamige roman – vertolk Eloise Clasen die rol van Hester Human, wie se “Jaar in Provence” oorskadu word deur die dood van haar dogter, kort voor die gesin se vertrek Frankryk toe. Haar man verdiep hom in ’n restourasieprojek, en haar seun kwyn weg in ’n vreemde huis in ’n vreemde land. Hester vind ’n geesgenoot in Myriam, ’n vlugteling uit die Demokratiese Republiek van die Kongo en ’n soort Medea-figuur met wie Hester denkbeeldige gesprekke voer. Daar is ook Aïsha, die suster van haar man se handlanger, en dit lyk asof ’n tweede tragedie hom kan afspeel.

Soms sien ’n mens ’n paar myle ver ’n produksie aankom wat bedoel is om kunstefees-catnip te wees: ’n Teks deur ’n bekroonde en geliefde skrywer, ’n aktrise wat veral op die kassie naam gemaak het, en ’n verhaal wat die hartsnare van selfs ’n geharde sinikus behoort te roer. Werk so iets, werk dit dikwels heel skaflik of selfs beter. Maar wanneer dit nie werk nie, voel ’n mens dalk meer bedroë as wat nodig is.

Ongelukkig val Stiltetyd in die tweede kategorie. Daar is bittermin aan dié produksie wat werk. ’n Eenpersoonstuk moes dit, byvoorbeeld, liewer nie gewees het nie. Dié keuse kom nie as ’n slim, innige verbeelding van iemand se smart en rouproses voor nie. Dit lyk eerder of daar ’n soort feeskalkulus aan die gang is… ’n stuk wat maklik kan reis.  Op sigself is dit seker nie doodsondes nie. ’n Mens kan egter nie die vermoede afskud dat die distillaat afbreuk doen aan die bronmateriaal nie.

Die dubbeldosis van Hester se denkbeeldige gesprekke met haar dogter en Myriam, en veronderstelde dialoog met ander karakters wat nie op die verhoog teenwoordig is nie, is moeilik om te sluk. Dit laat Clasen nie met ’n besonder breë doek vir karakterontwikkeling nie, want sy moet die verhaal nog eksplisiet vertel ook. Tussen reportage en karakaterstudie, voel die produksie dan nóg vis nóg vlees.

Vanweë die tydsoorwegings op die verhoog, kom die jukstaposisie van Hester en Myriam se verhale ook as kultureel misplaas oor. Dit is stief om te sê, maar Hester klink met tye soos net nog ’n relatief sosiaal-bevoorregte wat teem… wat kennelik nie veronderstel is om die strekking van die storie te wees nie. Van nuanse is daar weinig sprake, Hester se versugtings oor die “kontinent in die vorm van ’n hart” tref die kol nie, en die uiteindelike katarsis val plat. Die (enkele) naaktoneel voel oorbodig.

Voorts neig die inkleding na amateuragtig. Die stel bestaan uit ’n elliptiese gordynstang waaraan plastiekstortgordyne hang, met onder meer ’n bed, bad en klerestaander in die spelruimte. Toegegee, ’n mens kry die kloustrofobiese gevoel van hoe vasgevang Hester haar bevind, en wanneer sy die gordyne knoop, is daar die beeld van ’n voëlkou. Maar dan volg die klank van plastiek op plastiek, skril opgevang deur Clasen se mikrofoon, onvanpas. Die projeksies van haar hersensdogter is ’n werkbare idee, maar slegs vir diegene wat in die middel sit; van die kante af, word sig versper deur die gordyne waarop geprojekteer word.

Stiltetyd kort dus nog aandag en werk. Gegee die naam van Van der Vyver verwag ’n mens meer. Dit is dalk ’n kwessie van die spreekwoordelike liefies wat nekom gedraai moet word. Daar is beslis ’n fermer regisseurshand nodig. ’n Eenpersoonstuk behoort nie ’n outomatiese keuse te wees nie. Die risiko is veels te groot dat daar van ’n storie met lyf net ’n siellose geraamte oorbly.

 

  • Stiltetyd
    HS Stellenbosch
    7 Oktober 10:00 | 8 Oktober 19:00 | 9 Oktober 14:00 | 10 Oktober 18:30
    Kaartjies is beskikbaar by Quicket
Facebook
Twitter
LinkedIn