RESENSIE

Wagkamer van waarheid

Willem Bester
Terminaal 3
kykNET Hoërskool Stellenbosch
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Twee paartjies arriveer in ’n hospitaal se wagkamer: Die jong paartjie (Edwin van der Walt en Carla Smith) is daar vir die geboorte van hulle eersteling, en ’n ouer paartjie (Anna-Mart van der Merwe en Stian Bam) wag om die liggaam van hulle seun, Elias, uit te ken. Daar is niemand om hulle te ontvang nie en daarom kibbel almal oor of hulle wel op die regte plek is.

Die gemoedere is verstaanbaar broos – meer nog omdat die ouer paartjie kennelik van mekaar vervreem is en ’n mens vinnig die idee kry dat daar meer aan die jong paartjie se kriewelrigheid is as blote senuagtigheid oor die naderende bevalling. Die paartjies let nie veel op mekaar nie, maar iets voel bekend en Van der Merwe se karakter hou vol dit is “hier waar ons 19 jaar gelede was”. En dan is daar die vraag oor hoe Elias sou gesterf het.

Die Sweedse dramaturg Lars Norén (1944–2021) is bekend vir sy interesse in die interpersoonlike dinamiek binne die gesin. Sy teks vir Terminaal 3 roep die werk van Beckett op: Iets aan die milieu voel gelyk onvoltooid en ingeperk, onderstreep deur die akteurs se voetval agter die skerms wanneer daar hulp gesoek word; die karakters eggo mekaar en klets met ’n gelate hulpeloosheid, herhalend en in sirkels.

Daar is ook iets van die openingstonele van Almodóvar se rolprent Todo sobre mi madre (All About My Mother, 1999), met die een narratief ’n soort repetisie vir die ander.

Marthinus Basson (regisseur, vertaler en ontwerper) klee sy verhoog en akteurs in skakerings van grys in. Die onopvallende meubels lyk soos dié van ’n lughaweterminaal; dit is nie ’n plek waar enigiemand veronderstel is om tuis voel nie. Die beligting baai die verhoog aanvanklik in sepia, maar buisligte knal meedoënloos aan met die verskyning van ’n hospitaalamptenaar (André Roothman). Wanneer dié sy rol vervul het – om die paartjies onderskeidelik na die kraamsaal en deur die lykskouing te begelei – plaas Basson agter hom ’n riffelvenster, asof die drogbeeld van ’n kliniese waarnemer.

Iets aan die milieu voel gelyk onvoltooid en ingeperk, onderstreep deur die akteurs se voetval agter die skerms wanneer daar hulp gesoek word;

Die akteurs lewer deurgaans treffende spel: Van der Walt as nuwe pa wat nog nie veel aan die onderneming van vaderskap gedink nie, om die beurt opgewonde en dikbek; Bam as iemand wat homself ietwat knorrig probeer kwytskeld van die verantwoordelikheid wanneer ’n gesin in puin lê… Maar die werklike patos setel in Van der Merwe en Smith se spel as die twee moederfigure, een met ’n vae vermoede van wat die toekoms kan inhou, en die ander met die selfverwyt van terugskouing.

Wanneer die plasing van tyd en ruimte uiteindelik opgelos word, is daar geen psigiese uitklophou nie, geen ware katarsis nie. Daar is bloot die onvermydelike waarheid waarvan almal wou wegskram. Hoewel dit wou voorkom of die karakters deur die noodlot meegesleur word, is die wagkamer uiteindelik ’n vagevuur waarin die ouerpare vasgevang is – kosmiese boetedoening vir ontoereikende en selfgesentreerde ouerskap.

Tog is die ontknoping nie emosioneel onbevredigend nie. Etenstydteater is dit nie. “Waarheen is ons op pad?” word knap voor die einde gevra. En dan die versugtende bevestiging: “Ek sal wag.”

  • Terminaal 3 se laaste vertonings is op 12 Oktober om 10:00 en 12:30. Kinders onder 13  moet deur volwassenes vergesel word. Bespreek by Webtickets.
Facebook
Twitter
LinkedIn