RESENSIE

Stukkend kan heel word

deur Anouk Cronjé
Produksie: The King of Broken Things 
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Met haar meesterlike vertolking van ’n eksentrieke skoolseuntjie neem Cara Roberts die gehoor op ’n reis deur ’n wêreld waar gebreekte goed – ook harte, beloftes, en sommer die wêreld in sy geheel – reggemaak word en weggooigoed ’n tweede kans kry. Dié roerende eenmanstuk handel oor die ervaring van die skoolseun en hoe hy die uitdagings van anderswees, gesinskonflik en die gewig van groot toekomsdrome hanteer, en sal selfs volwasse mans tot trane dryf – ek het dit met my eie oë gesien.

Om gewigtige onderwerpe soos boelies, medemenslikheid, politiek, oorlog, diereregte, ouers wat sukkel met geestesgesondheid, en emosionele intelligensie (om net ’n paar te noem) aan te spreek op ’n wyse wat ’n kind se aandag vir net minder as ’n uur behou, sonder om geforseerd en oppervlakkig voor te kom, klink na iets baie na aan die onmoontlike. The King of Broken Things laat dit egter soos kinderspeletjies lyk. Nie net is die stuk geslaagd op al die bogenoemde terreine nie, maar kry dit reg om so te maak met ’n teks vervleg met treffende metafore, helder vergelykings en Griekse én Japannese mitologie en kultuur.   

Roberts se spel is deurentyd energiek en oortuigend, en selfs die woeligste gehoorlede het vir die hele verloop van die stuk vasgenael gesit. Hierby is die stel indrukwekkend en interaktief en behou dit veral jonger kykers se aandag. (Ek moet bieg: Ek het self in afwagting vasgenael gesit om te sien wat die stel uiteindelik sou word – en ek is beslis nie teleurgestel nie!)

Alhoewel dit ’n kinderproduksie is, steun die teks swaar op die metaforiese en gaan jonger kinders waarskynlik leiding nodig hê om van die meer verhulde “lesse” te begryp. Die stuk is wel, soos reeds genoem, vermaaklik genoeg om jong kykers se aandag regdeur te behou.

The King of Broken Things is vermaaklik, roerend en optimisties, en word vir sowel volwassenes as kinders aanbeveel.

Facebook
Twitter
LinkedIn