RESENSIE

Kragtige ensemble laat Rooi Ronnie en sy Eleanor leef

Marina Griebenow
The Unlikely Secret Agent
HMS Bloemhof-skoolsaal

Ek onthou goed hoe twee kollegas hulle een aand in 2001 in die ops-kamer van ’n internasionale speakerskonferensie half simpel gelag het toe ek hulle vertel ek het as 13-jarige ’n skoledebatskompetisie gewen met my toespraak oor die gevare van kommunisme. “What could you have possibly known about communism?” het hulle gevra. “My pa se vriend het Bybels in Rusland ingesmokkel,” het ek geantwoord, “en hy het gesien wat daar gebeur.” Teen dié tyd was hulle natuurlik amper histeries. Ek ook.

Dit was toe al sewe jaar nadat ons wettig die Rooi gevaar saam met die Swart gevaar by die swaar deur van die Nasionale Vergadering sien inkom het, onder andere “Rooi Ronnie”, soos Ronnie Kasrils glo onder die veiligheidspolisie en regeringsgesinde media bekend was. Hy was gou maar net nog ’n politikus, selfs ’n adjunkminister en later ook ’n lid van die kabinet.

Min van ons het egter geweet Kasrils het sy loopbaan as ’n skrywer in die filmbedryf en advertensiewese begin. Dít leer ons eers as sy boek oor Eleanor Kasrils, sy vrou, sowat vier jaar ná haar dood in 2013 verskyn, met die Alan Paton-prys bekroon word en meer onlangs nog in ’n suksesvolle toneelstuk omskep word deur die akteur en regisseur Paul du Toit. Trouens, die toekennings vir die verhaal van ’n buitengewone vrou neem toe, want Du Toit wen vroeër vanjaar die Fleur du Cap-toekenning as beste regisseur vir The Unlikely Secret Agent.

As ’n ensemble is hulle mees suksesvolle oomblikke gewis as die kwetterende klomp skelm drinkers in die Fort Napier- psigiatriese hospitaal.

In die produksie van The Unlikely Secret Agent by die Woordfees vervang Wessel Pretorius vir Du Toit in die rol van Kasrils asook ’n verskeidenheid ander rolle. Pretorius is natuurlik die perfekte romantiese held en hy slaan die gehoor se voete onder hulle uit met dieselfde spoed waarteen hy Eleanor se hart wen. Erika Marais speel weer eens Eleanor, ’n rol waarvoor sy as beste aktrise genomineer was. Ntlanhla Kutu, Carlo Daniels en Gideon Lombard maak saam met Pretorius deel uit van die ensemble spelers wat onder hulle al die ander rolle in die toneelstuk speel. En watter kragtige ensemble is hulle nie!

Daar word staatgemaak op elkeen se sterk punte om die verhaal voort te stu en die spanning te bou. Du Toit kon kwalik ’n slimmer manier gebruik het om ’n groot aantal uiteenlopende gebeure uit die boek in te sluit.

Kutu, self ’n Fleur du Cap-wenner as die mees belowende student ’n paar jaar gelede, doen sy belofte gestand met onder meer onvergeetlike vrouekarakters so uiteenlopend soos Daphné en Precious. Die volgende oomblik is hy weer ’n absoluut oortuigende veiligheidspolisieman genaamd Malan. Daniels is ook nuut in dié stuk, maar soos altyd speel hy met integriteit en oortuiging. Dis merkbaar dat hy die rolle vertolk wat empatie vereis. ’n Mens kry die gevoel dis ook hoe hy as speler sy karakters benader. Lombard het in sy loopbaan al menige toekennings vir sy spel gewen – en dis ook geen wonder nie. Sy vertolking van die veiligheidspolisieman lt. Grobler laat die bloed in jou are stol. As jy oud genoeg is, onthou jy hom.

As ’n ensemble is hulle mees suksesvolle oomblikke gewis as die kwetterende klomp skelm drinkers in die Fort Napier- psigiatriese hospitaal. Dis maar een van die voorbeelde waar Du Toit se verwerking van Kasrils se boek ’n goeie balans tref tussen erns en humor. Dit is eintlik ook verbasend hoeveel geskiedenis hy insluit sonder dat dit vervelig of oordadig raak. Video word wel doelgerig ingespan, maar nie in oormaat nie, asook Daniel Galloway se beligting en Jahn Beukes se klankbaan.

Die meeste gebeure vind plaas op ’n persoonlike vlak, en dis belangrik, want die groter gebeure is op die ou einde die konteks vir die verhaal van een vrou en een man. Eintlik maar net ’n liefdesverhaal een wat nie net die gewone aanslae van ’n verhouding moes weerstaan nie, maar ook ’n ongenaakbare landsgeskiedenis.

’n Mens kry die gevoel die gehoor se entoesiastiese en waarderende applous aan die einde was net soveel vir die produksie in sy geheel as die insig wat dit verleen. Dís tog waarvoor teater daar is.

 

  • The Unlikely Secret Agent is nog te sien op 15 Oktober om 15:00 en 16 Oktober om 09:30 in die HMS Bloemhof-skoolsaal. Bespreek by Webtickets.
Facebook
Twitter
LinkedIn