RESENSIE

Van Rooi se meesterlike kragtoer

deur Marina Griebenow
Produksie: The Woman Who Fed the Dogs
Foto’s: Jeremeo Le Cordeur

Hoe klim jy in die kop van ’n vrou wat aandadig was aan die gruweldade van ’n kinderontvoerder, -verkragter en reeksmoordenaar? Dis presies wat die Belgiese skrywer Kristien Hemmerechts probeer bereik het met haar roman The Woman Who Fed the Dogs. Sy skryf uit die oogpunt van Michelle Martin, gehate eggenote van Marc Dutroux, oor die gebeure wat nie net België nie, maar die ganse wêreld geruk het. Die boek word goed ontvang en Hemmerechts geloof vir haar insig en benadering. Die boek word in ’n solo-toneelstuk omskep en beland in dié vorm in Suid-Afrika.

In Suid-Afrika, een van die lande in die wêreld met die hoogste voorkoms van geslagsgebaseerde geweld, is dit nie onvanpas om dié toneelstuk as spieël voor te hou nie. Dis ook nie vergesog om te sê dat die handjievol mense wat hulleself in die saal van die Hoërskool Stellenbosch tuisgemaak het, nie ’n idee gehad het waarvoor hulle hulleself inlaat nie, maar ’n mens is oortuig elkeen sou dit weer doen.

Soos wat jy die saal binnekom, sien jy heel eerste ’n groot hok op die verhoog. Daarop sit ’n vrou in ’n blonde pruik en met ’n wit bloes aan, asook ’n reusagtige hemelblou satynromp met valle onderaan. Langs haar staan ’n wolfhond wat heen en weer kyk met sy tong wat uithang. Jy wonder dadelik oor die titel van die stuk: Die vrou wat die honde gevoer het. Oor die luidsprekers hoor jy die stem van Martin wat in Frans getuig. Haar stem klink verbasend lig. Sou iemand wat sulke wreedhede kon pleeg nie ’n dieper stem gehad het nie?, wonder jy.

Die ligte doof uit en Lee-Ann van Rooi, in die rol van Martin, lig haar kop en praat haar eerste woorde. Daar is vir die gehoor geen wegkomkans van alles wat haar benadering van gehoorsaamheid ten alle koste beïnvloed het en wat die tragiese gevolge daarvan sou wees nie.

Haar pa is vroeg dood in ’n motorongeluk, wat sy op 5-jarige ouderdom geglo het  háár skuld was, haar ma ken aan haar ’n totaal onvanpaste rol toe waarvan sy uiteindelik net kan ontsnap deur haar huwelik met Marc Dutroux, min wetend dat hy haar na ’n huis sou neem wat nog groter gruweldade as haar ma s’n sou huisves. 

Mettertyd hoor ons dat sy selfs die bussie bestuur het wat hy gebruik het om meisies te ontvoer, hoe hy en sy “vriende” pornografie in hulle huis gekyk het, sy seksuele eise aan haar en sy wreedaardige gedrag toe hy hoor sy is swanger met ’n seun. Dutroux wou net dogters gehad het. Saam het hulle drie kinders gehad. Martin praat baie oor haar rol as ma, maar sy is nie ’n beter ma as wat haar eie was nie.

’n Ent weg deur die drama gee Van Rooi “geboorte” aan ’n jong meisie wat onder haar groot romp op die grond val, nog ’n verrassing vir die gehoor. Die rol word gespeel deur die danser Lynette du Plessis. Martin kan net binne haar hok beweeg, dus beweeg Du Plessis namens haar. “Sy is ’n danser, maar sy is ook die ervaring van ons toekoms. Sy is die dogter, sy is alle dogters en alle vroue. Sy is ons toekoms. Sy is ons en daarom is sy belangrik. Dis wonderlik dat sy ’n danser is, want die uitdrukking van emosies is so anders in dans as met woorde,” verduidelik Van Rooi.

Die gebruik van klankbeelde voel soms te erg, maar dan besef jy dit is jy wat ongemaklik is met wat voor jou afspeel. Net so kry jy nou warm en dan weer koud.

Dit is geensins ’n maklike stuk om te kyk nie, nie fisiek of geestelik nie. Elke keer wat jy die geluid van ’n hond wat hyg,hoor, kom die titel van die stuk by jou op en jy kry hoendervleis. Die blote gedagte dat Martin die honde by Dutroux se huis gaan voer het, maar toegelaat het dat meisies wat in haar huis se kelder opgesluit was van honger omkom, gaan ’n mens se verstand te bowe. Niks maak sin nie.

Van Rooi lewer ’n meesterlike kragtoer wat min haar sal kan nadoen. Sy gaan van ’n lighartige vrou wat kort-kort trots oor haar blonde hare stryk na ’n kras, seksbeluste feeks wat Dutroux terselfdertyd liefhet en haat. Elke register van haar goed ontwikkelde stem word met soveel vernuf aangewend dat jy in jou stoel terugdeins as sy in haar hok brul.

Wanneer die ligte finaal uitdoof, is dit tjoepstil in die ouditorium. Jy kan ’n speld hoor val. Niemand klap nie. As die ligte egter aangaan en Van Rooi en Du Plessis kom vorentoe, bars die applous los en word die spelers en hulle medewerkers met ’n welverdiende staande applous beloon.

Van Rooi se instink omtrent die stuk was reg. Ons moet weet van hierdie dinge, want die Dutroux’e en Martins loop los rond op soek na prooi, en nie net in België nie. ’n Mens hoop hulle harde werk word beloon met nog speelvakke en gehore wat die moed van hulle oortuiging het om daarheen te gaan en hulleself en hulle geliefdes met kennis te bewapen.

 

 

Facebook
Twitter
LinkedIn